Local news

Met dapper en stapper in die Waterberg-natuur

Die somerson roep almal buitentoe om meer tyd in die natuur deur te bring.

Baie gesinne geniet dit om op Saterdae ’n “parkrun” te voltooi omdat oud en jonk kan deel in die pret. Annette van Dyk is die hoofsameroeper van die Modimolle Parkrun wat elke Saterdag in sonskyn, bibberkoue of reёnweer om 07:00 by die Koro Creek-gholflandgoed in Modimolle afskop.

Hoewel die parkruns tydens grendeltyd gestaak is, kon dit weer in Oktober 2021 hervat word. Volgens die organiseerders is daar gemiddeld 135 tot 150 deelnemers wat die 5 km roete deur pragtige natuurskoon stap of draf. Deelnemers wissel van babas in stootwaentjies tot oumas en oupas met die oudste deelnemer van 86 jaar.

Van Dyk (67) wat die afgelope vyf jaar in die Kokanje-aftreeoord woon,,is self ’n kranige atleet wat steeds mededingend deelneem aan meestersatletiek- kampioenskappe wat onder meer gewigstoot, diskus en skyfwerp insluit. Daarmee saam speel sy drie maal per week pluimbal en woon twee maal per week trimgim-klasse by. Sy neem ook graag deel aan lyndansklasse wat by die oord aangebied word. Sy is voorwaar ’n sprekende voorbeeld dat ’n gesonde liggaam ’n gesonde gees huisves.

Die konsep vir parkruns is 18 jaar gelede deur Paul Sinton-Hewitt, ’n gebore Zimbabwiër wat in Potchefstroom op kosskool was, maar in Londen gewoon en gewerk het, tot stand gebring. Bruce Fordyce, wat nege keer die Comrades-maraton gewen het, is die direkteur van Parkrun Suid-Afrika.

Deelnemers kan gratis op hul webwerf (www.parkrun.co.za) registreer. Elke deelnemer kry ’n unieke nommer om sodoende rekord te hou van elke parkrun wat voltooi word. Daar is tans meer as 2 000 parkruns wat elke Saterdag in 23 lande oor ses vastelande aangebied word.


Kyk: Modimolle Parkrun op Facebook vir foto’s wat weekliks geplaas word.

Related Articles

Back to top button