Local news

Hou jouself en Wagter jonk met daaglikse oefening

Honde-eienaars weet hoe hul vierpootkinders dit geniet om “vryelik” buite die grensmuur te kan stap en al die nuwe reuke en klanke te beleef.

Nie net is die oefening buite in die natuur goed vir Wagter nie – dit hou ook talle voordele in vir die eienaars.

Willem van der Merwe (72) het meer as ’n jaar gelede saam met sy vrou, Agatha, vanuit Johannesburg na Modimolle verhuis saam met sy twee hondekinders. Max is ’n statige (en baie gehoorsame) Duitse herdershond wat nou al 10 jaar oud is. Max se metgesel, Pupsy, is ’n lewendige negejarige worshond-Jack Russel-kruising.

Van der Merwe vertel dat hy nie sommer in die stad met sy honde gaan stap het nie omdat dit bloot nie veilig was nie.

“Ons het vir bykans 30 jaar in Roodepoort gewoon, maar ná ’n jaar in die pragtige Waterberg-omgewing wil ek nooit weer in die stad woon nie,” het hy gesê. Dit is juis die rustige omgewing en natuurskoon wat dit vir hom en sy honde heerlik maak om elke oggend te gaan stap. “Die honde is soggens vroeg wakker en kom dan eers weer tot ruste nadat ons gaan stap het,” vertel hy.

Hul gunstelingstaproete is agter om Bosveldsig waar dit grens aan ’n groot veld. Hierdie roete is omtrent 3 km met ’n oop paadjie wat redelik gelyk is, dus kan ouer inwoners dit beslis aandurf.

Die langer roete, wat oor bykans 5 km strek, volg ’n grondpad wat verby perdestalle gaan. Ook hierdie pad is in ’n goeie toestand sonder hindernisse of groot, los klippe.
Van der Merwe, wat destyds bedryfsielkunde studeer het, het vir baie jare by die Nedbank-groep gewerk as menslikehulpbron- konsultant waar hy verskeie kursusse in leierskap, transformasie, persoonlike groei en korporatiewe gesondheid ontwikkel het.

Hy het meer onlangs sy eie konsultasie-onderneming, Future me, begin waar hy besigheids- en lewensafrigting aan kliёnte bied. “Ek glo nie in aftrede nie — ’n mens moet aanhou om ’n betekenisvolle bydrae te maak wat jou ’n rede gee om elke oggend op te staan. Oefening is natuurlik ook die beste teenvoeter vir depressie en hou ’n mens jonk,” is sy filosofie.

Related Articles

Back to top button