Local news

Bela-Bela-munisipaliteit moet geoudit word, sê skaduminister

Die agteruitgang van dienslewering in Bela-Bela is een van die sake wat vir Cilliers Brink bekommer.

Brink, die DA se skaduminister van Samewerkende Regering en Tradisionele sake (CoGta), stel voor dat ’n volledige oudit van alle munisipale werkers en amptenare, asook die kragmeters in die dorpe, gedoen word.

“Só kan ’n mens uitvind wie betaal word en wie is die spookwerknemers.”

Hy het inwoners op Vrydag 21 Oktober buite die dorp toegespreek en daar ook sy steun aan Rika Kruger, Wyk 1 se DA-kandidaat in die komende tussenverkiesing, verklaar.

Met minder as ’n maand voor die tussenverkiesing in Bela-Bela op Woensdag 16 November het die onderskeie partye se topleiers op nasionale vlak die dorp besoek om steun te wen.

Brink vertel dit is sy werk om mense moed in te praat.

“Dienslewering regoor die land is swak en munisipaliteite is bankrot. Dit is die doel van die DA om in beheer te kom van dorpe sodat ons kan aanhou om die geldkrane na die ANC toe te draai.”

Die feit dat talle mense sê die politici versaak hulle en hulle daarom belangstelling in die politiek verloor, moet aangespreek word, meen hy.

“Mense kan nie ophou om in politiek belang te stel nie. Raak betrokke en wend ’n poging aan om uit te vind wat in jou dorp aangaan. Die verandering lê juis by die stembus. Mense kan ook deur middel van burgerregteorganisasies stappe neem. Daar is verskillende vlakke van betrokkenheid wat ondersoek kan word.”

Hy sê voorts die provinsiale LUR van die departement samewerkende regering is reeds besig met ’n Artikel 106-ondersoek teen die Bela-Bela-munisipaliteit. Hierdie ondersoeke word gelas wanneer daar te veel aantygings van korrupsie gemaak word.

“Die dorp sit reeds met ’n ongewenste ouditmening van die Ouditeur-generaal (OG), want daar is gerugte dat die munisipaliteit hul finansiële sake moedswillig laat klop. Ek hoor verder dat mense graag hul belastinggeld wil weerhou, maar dit sal die hekke oopmaak vir groter wetteloosheid. Die stelsel sal in geheel ineenstort en niemand sal wil hê dit moet gebeur nie.”

Benewens sy raad om sake in Bela-Bela om te keer met ’n volledige oudit van alle munisipale werkers en amptenare, asook die kragmeters in die dorp, meen hy die munisipaliteit moet bekwame mense in diens neem. Invordering op uitstaande munisipale inkomste vir beter dienslewering moet ook opgeskerp word.

“Ek hoop daar is ’n mate van optimisme onder mense om aan te hou om vir hul toekoms te veg. Regstappe kan geneem word in samewerking met die DA en burgerregteorganisasies.”

“Soos wat sake tans in die land staan, met die binnegevegte in die regerende party ook ingedagte, is daar ’n besliste afname in steun vir die ANC. Dit sal veral in aanloop tot die 2024 nasionale verkiesing en daarna gesien word”, sê Brink.

Related Articles

Back to top button