Local news

Staatmakers bring al jare die nuus

Om ’n koerant saam te stel, verg meet en pas, byvoeg en sny totdat dit uiteindelik by die drukkery beland.

Dan begin die groot werk om daardie varsgedrukte koerant by die winkels, onderneming en afsetpunte te kry sodat ons lesers dit kan geniet.

Dis hierdie hande en voete van Die Pos se getroue afleweringspan wat sorg dat koerante in sonskyn, reën en haelstorms of vriesende koue weekliks vanaf Bela-Bela na Modimolle, Mookgophong en Vaalwater versprei word.

Rika en Willie van der Schyff saam met hul jongste dogter, Mariëtte.

Rika en Willie van der Schyff is die span wat sorg dat Modimolle se koerante klokslag afgelewer word by elke punt. Hulle woon sedert 1981 in die Waterberge en is al 45 jaar getroud. Hul jongste dogter, Mariëtte, lewer sedert 2018 die koerant in Vaalwater af.

Willie (nou 73) het 23 jaar gelede begin om die koerant in Modimolle af te lewer, maar ná ’n beroerte in 2011 kon hy dit nie meer alleen behartig nie en het Rika en Mariëtte ingespring om hand by te sit.

“Orals waar ons aflewer, is die personeel vriendelik en behulpsaam. Hulle is altyd baie besorg oor Willie as hy die dag nie saam met my aflewer nie,” vertel Rika.

Die twee verkies om die koerante saans af te lewer, want dan is die strate stil. Nadat al hul koerante afgelewer is, bederf hulle hulself graag met ’n heerlike draairoomys voor hulle huiswaarts keer.

Willie vertel hy het destyds in 1999 weekliks sowat 2 300 koerante afgelewer. Dit het mettertyd effens afgeneem. Die meeste koerante word deur Pick n Pay-supermark verkoop met Checkers ’n kortop agter hulle.

“Wanneer die koerant langs die kasregister geplaas word, verkoop dit baie beter as iewers op ’n rak tussen ander koerante,” sê Rika.

Hardenuus op die voorblad, soos ongelukke, misdaad of bekendes wat sterf, verkoop volgens haar die meeste koerante.

Gedurende grendeltyd was dit hul behoud om weekliks steeds die koerant te kan aflewer. Ongelukkig het die impak van grendeltyd die ekonomie lamgelê wat tesame met die skerp styging in brandstofpryse ook hulle sakke geraak het.

Santjie van der Merwe lewer die afgelope 11 jaar Die Pos in Mookgophong af.

Santjie van der Merwe het 11 jaar gelede begin om die koerant in Mookgophong af te lewer. Sy en haar gesin woon op ’n plaas ongeveer 15 km buite die dorp. Sy vertel dat die personeel by die afsetpunte haar elke Vrydagoggend vriendelik groet, want hulle weet die werkweek staan einde se kant toe en dis amper naweek.

“’n Mens raak wel bekommerd as die koerant die week swak verkoop. Soms kla lesers die nuus is te min en advertensies is te veel terwyl ander mense klokslag elke week die koerant koop,” het sy gesê.

Die reënseisoen kan nogal ’n uitdaging wees, want nie alle winkels het afdakke nie.

“Ek hou heeltyd die weervoorspelling dop en is gewapen met swartsakke en ’n sambreel. Soms draf ek vinnig by ’n winkel in as dit skielik harder begin reën,” vertel sy.

Die grootste frustrasie is tydens Paasnaweek wanneer die verkeer tussen Bela-Bela, Modimolle en Mookgophong ’n absolute nagmerrie is weens die groot hoeveelheid toeriste wat hierheen stroom.

In Mookgophong word die meeste koerante by die OK-supermark verkoop. Ook daar verkoop hardenuus op die voorblad, soos die onalngse berig oor die wildsplaas wat afgebrand het, die beste terwyl spesiale uitgawes soos met die matriekafskeid soos soetkoek verkoop.

Sy vertel dat die verskriklike vloed wat Klein-Kariba destyds in 2014 oorstroom het, haar altyd sal bybly.

Santjie se ma, Magda Pretorius (67), is gebore en getoё in Modimolle, maar het in 2020 na Louis Trichardt verhuis om by haar seuns te gaan woon. Sy vertel dat sy glad nie aanklank vind by enige ander koerante nie omdat sy haar hele lewe lank ’n pad met Die Pos gestap het.

Die Pos staan nie verniet bekend as die klein koerant met die groot hart nie.

Related Articles

Back to top button