Local news

Plaaslike kunstenaar tooi munisipale kantoor mooi

Die ingang na die munisipale kantoor in Mookgophong trek deesdae baie aandag nadat ’n plaaslike kunstenaar dit verfraai het met ’n pragtige muurskildery.

Twee DA-raadslede het onlangs die bul by die horings gepak en besluit om die munisipale kantoor skoon te maak en te verf. Antoinette Wagener vertel sy en Hercules Louw het ’n plaaslike kunstenaar gesoek wat kan help om vir die ingangsportaal ’n nuwe baadjie te gee.

“Ek het na ’n plaaslike kunstenaar gesoek om die portaal te verf en vir Sello Joseph Matjui voor ’n winkel in Nelson Mandelastraat raakgeloop waar hy gesit en teken het. Ek het hom van my plan vertel en hy was baie opgewonde om te help en die verf is gekoop,” het sy met Die Pos gedeel.

Eers is daar besluit om ’n aalwyn te verf, maar uiteindelik is ’n naboom met aalwyne geskilder. Die ingang lyk nou pragtig en Wagener het die inwoners genooi om self te kom kyk.

Matjui is 24 jaar oud en is in Modimolle gebore, maar het sy kinderjare in Malamolele in Giyani deurgebring. Hy het in 2009 na die Waterberge teruggekeer en in 2017 in Mookgophong gematrikuleer.

“Ek het reeds as kleuter belanggestel in kuns. Kuns is my talent wat ek van God ontvang het en voel ek moet dit uitleef,” het hy vertel.

Matjui het nog nooit enige kunslesse geneem nie en het ’n natuurlike aanvoeling vir skilder.

“Dit was ’n plesier om te sien hoe Sello dit geniet het om die muurskildery te maak. Hy is so ’n vriendelike jong man en gryp elke geleentheid aan om sy passie uit te leef,” het Wagener gesê.

Wagener beplan om binnekort ’n kunsuitstalling te hou om plaaslike kunstenaars blootstelling te gee en ook die gemeenskap bewus te maak van die talent in die dorp en omgewing. Sy het bygevoeg dat daar planne is om al die kantore op te knap.

“Nou dat die ingang mooi gemaak is, het ander werknemers ook gevra dat ons help om hulle werksomgewing te verbeter.”

Related Articles

Back to top button