Local news

FAK stig Nylstroom-kultuurnetwerk

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het Limpopo se eerste FAK-kultuurnetwerk in Modimolle gestig.

Verteenwoordigers van onder meer die Afrikaner Erfenisstigting Waterberg, Hoёrskool Nylstroom, Dameskring, Vryheidsfront Plus Jeug en talle lede van die gemeenskap het die byeenkoms op Donderdag 29 September by die Koffiekan plaaswerf restaurant in Modimolle bygewoon.

Barry Müller, een van die FAK se kultuurkoördineerders, het aan die belanghebbendes verduidelik wat die doel van hierdie nasionale kultuurnetwerke is.

“Die behoud en beskerming van ons Afrikanerkultuur, taal en geskiedenis lê in die hande van die gemeenskap. Daar kan nie meer gereken word op die regering om ons erfenis te beskerm nie, want wanadministrasie en wanbesteding is aan die orde van die dag,” het hy gesê.

Elke kultuurnetwerk begin gewoonlik deur ’n volledige lys van geskiedenisbakens in hul omgewing op te stel sodat prioriteite en projekte daarvolgens beplan kan word.

“Wanneer groepe saamwerk kan klein projekte wat gereeld aangepak word, meer vermag en sodoende ’n groter impak maak,” het Müller verduidelik.

Geskiedenisbakens en gedenkwaardighede kan ook ingespan word om toerisme in die Waterberg te bevorder. So kan plaaslike kenners wat in die omgewing woon, toere aanbied om die geskiedenis en erfenis van Modimolle en die omgewing uit te lig. Skole kan ook hierby baat as deel van die leerplan.

Die konsentrasiekampkerkhof met die grafte van talle vroue en kinders wat gedurende die oorlog van 1899 tot 1902 gesterf het, is een van hierdie geskiedenisbakens wat besig is om te verval.

Dit is ook daar waar die graf van Gerard Moerdijk, bekende argitek van die Voortrekker monument en boorling van die destydse Nylstroom, is. Die FAK het aangebied om weer ’n gedenkplaat op die graf aan te bring nadat die koperplaat jare gelede gesteel is.

Nog ’n knelpunt wat deur die FAK aangespreek word, is openbare skole wat slegs Afrikaans as voertaal aanbied. Hierdie skole, wat bykans almal doeltreffend bestuur word en gehalteonderrig bied, is deurgaans in die spervuur weens die politieke agenda van die regerende party. Müller is van mening dat die geskiedenis rondom die ontstaan van Suid-Afrika, asook geskiedkundige gebeure soos die Anglo-Boereoorlog, ná 1994 so verdraai is dat talle Afrikaners skaam en skuldig voel oor die land se erfenis van slawerny en apartheid.

Voorbeelde van die FAK se betrokkendheid by skole is aan die hand van kunskompetisies waar leerders Afrikaanse idiome uitbeeld of gedigte skryf. Die geskiedenis word ook lewend gemaak tydens kultuurweke waar leerders blootgestel word aan boeresport en ander voorstellings uit ons geskiedenis, vertel Müller.

“Ons moet almal ons deel doen om ’n toekoms vir ons Afrikanererfenis te verseker,” het hy afgesluit.

Inwoners van die Waterberg kan vir Jaco Bogaards bel by tel.083 650 8373 om by die FAK Nylstroom-kultuurnetwerk in te skakel of stuur e-pos aan Müller by barry@kultuurtuiste.org.za(.)

Related Articles

Back to top button