Local news

Bal aan rol vir reuseopgraderings aan paaie

Grootskaalse opgraderingswerk op verskeie roetes om Bela-Bela en Modimolle is bekend gemaak. Die R101 tussen Bela-Bela en Modimolle sal onder meer ’n nuwe baadjie kry teen sowat R600 miljoen.

Motorryers sal vroeg aanstaande jaar geduld aan die dag moet lê wanneer padwerke in alle erns begin, want die hele projek sal na verwagting eers in 2025 voltooi wees.

Die besonderhede van dié reuse- padopgraderingsprojek in Die Pos se lesersgebied is op Vrydag 14 Oktober aan belanghebbendes in die Bela-Bela-township bekend gemaak.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) se verteenwoordigers het verduidelik dat die R516-pad vanaf die Thabazimbi munisipale grenslyn (Tooyspruit) tot in Bela-Bela; die R101-pad van Bela-Bela na Modimolle; die R520-pad vanaf die Lephalale-grens na die R33-padkruising in Vaalwater; en die R33-pad vanaf Modimolle na die Lephalale-grenslyn opgegradeer sal word.

Grootskaalse padopgraderings gaan in 2023 in Die Pos se lesersgebied plaasvind. Riaan Oerlemans (regs), Sanral-projekbestuurder, verskaf hier meer besonderhede. Links is Koos Sepuru, hoofsweep van die Bela-Bela-munisipaliteit.

Die totale afstand wat verbeter sal word, is 176 km en die basiese instandhouding van die betrokke paaie kos sowat R47 miljoen. Instandhoudingswerk is reeds sedert Mei aan die gang.

Die groter opgraderingswerk op die R101 tussen Bela-Bela en Modimolle sal oor twee jaar, teen ’n koste van sowat R600 miljoen, geskied. Drie skerp teerpadkurwes na Modimolle sal aansienlik verander word, het ’n verteenwoordiger van Sanral gesê.

’n Bedrag van R200 miljoen sal op tender aan plaaslike kontrakteurs uitgaan en die gekose kontrakteurs sal gevra word om onder meer heinings op te rig, bebosde dele op te ruim, slaggate te vul, vervoer te bied en verkeerstekens of veiligheidsreelings op te rig. Sanral sal die tenders in Die Pos adverteer, is op die vergadering bekend gemaak.

Tsegare Moletsane, Sanral se transformasiebeampte, het gesê Sanral wil opkomende swart sakelui betrek om vir kontrakte te tender.

“Daar is egter vereistes vir tenderaars. Hulle moet onder meer geregistreer wees by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), asook op die nasionale databasis as ’n diensverskaffer en by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC),” het hy gesê.

“Ons bied opleiding aan opkomende sakelui om wettig te tender, want Sanral het dit te veel ervaar dat mense aan wie tenders toegeken word, nie hul kontrakwerk korrek uitvoer nie weens ’n gebrek aan kennis.”

Die goeie nuus vir inwoners op die R516-pad buite Bela-Bela, is dat Sanral geen afritte en opritte na enige perseel op dié roete sal uitsluit nie.

Riaan Oerlemans, projekbestuurder, het aangedui dat die kontrakteur verkeersirkels sal inrig om verkeer op dié pad te reguleer. Mense sal dus nie regs oor die pad kan afdraai nie, maar slegs na links.

Mense wat gewoonlik regs oor die pad afgedraai het, sal vir die duur van die kontrak om die naaste verkeersirkel aan hul eiendom moet ry, terugry na die dorp en dan links afdraai na hul eiendom, het hy gesê.

Verder sal die verkeersirkel wat die Thabazimbi-pad, Oosthuizenstraat, Quaggastraat, Mentzlaan en Chris Haniweg verbind, gesentraliseer word.

Die middelman en sypaadjies in Chris Haniweg sal ook verbeter word. Dit sluit in die sypaadjies na Hoërskool Warmbad. As ’n bonus sal Sanral die straatligte in Chris Haniweg vervang.

Die opgraderingswerk sal na verwagting teen Januarie 2023 in die Bela-Bela-omgewing begin.

Related Articles

Back to top button