Local news

Veilige hawe vir talle weerlose gestremdes

Oktober is Geestesgesondheidmaand en Die Pos het met Louise Zietsman, stigter van Huis Elpidos in Modimolle gaan gesels. Huis Elpidos bied ’n veilige hawe vir mense wat aan geestessiektes ly.

“Ons is sedert 2020 in Modimolle gevestig om mense wat aan skisofrenie, bipolêre gemoedsversteuring of depressie ly te versorg. Ons het in 2010 in Randburg begin, want daar het ons besef dat ’n veilige hawe uiters noodsaaklik is. Sowat 1% van die totale wêreldbevolking ly aan skisofrenie — my eie seun inkluis. Dit is waarom hierdie soort instansies uiters noodsaaklik is,” het Zietsman vertel.

Zietsman sê die tipiese simptome van skisofrenie sluit in episodes waar pasiënte hallusineer, delusies het of wanneer hulle woorde niks sin maak nie. Hulle ervaar ’n gebrek aan dryfkrag, motivering, asook ’n agterstand om sterk emosies of plesier te ervaar. Sekere simptome is oor die algemeen behandelbaar, maar negatiewe simptome kan lewenslank duur.”

Die oorsake van skisofrenie kan, volgens Zietsman, uit ’n genetiese faktor wat oorerflik is, dwelmgebruik of trauma spruit.

Trauma wat tot skisofrenie lei, word baie keer veroorsaak deur die dood van ’n geliefde, of selfs wanneer die persoon geboelie of afgeknou is, het sy vertel.

“Die woord Elpidos is die Griekse woord vir hoop. Ons het tydens ons 10 jaar in Randburg waardevolle ondervinding by die Tara-psigiatriese hospitaal in Sandton opgedoen. In hierdie stadium neem ons slegs mense in wat stabiel is, wat deur psigiaters en maatskaplike werkers van psigiatriese hospitale na ons verwys word.”

Inwoners wat psigotiese episodes by Huis Elpidos ervaar, word met hulp van die polisie na die plaaslike hospitaal geneem om gestabiliseer te word.

“Ek ontvang geen staatsubsidie nie en die inwoners betaal ’n privaat tarief om hier te woon en versorg te word. Van die inwoners betaal slegs ’n nominale fooi, aangesien hulle niemand het om hul finansieel te dra nie.”

“Ons ontvang geen bydraes van die gemeenskap nie, maar ontvang graag hulp. Elkeen van my inwoners neem drie maal per dag hul medikasie onder toesig van die huismoeder, wat hulle maandeliks neem om hul medikasie aan te vul. Besoeke aan hul persoonlike psigiaters, of die Denmar-psigatiese hospitaal of Rand Clinic in Johannesburg vind elke ses maande plaas. Vir ons staatspasiënte klop ons aan by die FH Odendaal hospitaal aan.”

Om op die perseel te woon word ’n aansoekvorm en ’n verslag van die pasiënt se psigiater versoek, waarna ’n onderhoud met die ouers en die pasiënt gehou word.

Die huis is ten volle gemeubileer en inwoners kan selfs troeteldiere aanhou. “Ek moedig die aanhou van troeteldiere aan. Die meeste inwoners het nie kinders nie en ek beskou dit as terapie dat hulle ten minste ’n troeteldier het om te versorg en liefde te gee en by te ontvang.”

Inwoners neem deel aan groepsaktiwiteite soos tuinmaak, handewerk en bordspeletjies. “Ons inwoners maak badsout, leersleutelhouers en sementbakke vir voëls. Een inwoner boer met braaikuikens en ons het selfs hoenders wat eiers lê. Inwoners werk ook in die groentetuin waarna groente verwerk en gevries word vir latere gebruik.”

Die inwoners het ook die parkie in Hagenstraat “aangeneem”, waar hulle die verwaarloosde speelapparate afgeskuur en geverf het. Die park is ook van nuwe asblikke en spekbome voorsien en onkruid is verwyder.

“Maandae en Vrydag tel ons die rommel in die park op en vee die plaveisel op ’n gereelde basis.”

Volgens Zietsman vervul Huis Elpidos ’n waardevolle funksie in die gemeenskap omdat die behoefte vir ’n heenkome vir spesiale mense steeds bestaan.

Vir verdere inligting kan mense hul Facebookblad besoek.

Related Articles

Back to top button