Local news

Outydse motors blink gepoets

Meer as 20 modelle outydse voertuie uit die laaste eeu is van nader beloer tydens ’n antieke voertuiguitstalling wat op Saterdag 8 Oktober by die Dinkelacker-padstal buite Bela-Bela gehou is.

Die veteraan-voertuigskou het talle voete gelok en daar is gesellig om die motors gekuier. Frans le Roux, voertuigkenner, het as beoordelaar opgetree en eienaars wie se voertuie uitgestaan het, se pryse oorhandig.

Die voertuie wat veral die oog gevang het, was ’n Nissan Yanga-trok (1942), ’n F100 Ford-bakkie, die 250SL Mercedes (1968), ’n Chevrolet El Camino-bakkie (1970’s) en ’n Ford Prefect (1958).

“Daar is ’n ongelooflike geesdrif onder veteraanvoertuigeienaars. Mense ervaar die nostalgiese en romantiese elemente van die tydperke waarin die ou voertuie vervaardig is,” het Arnaud le Roux, organiseerder, gesê.

“Ons het vandaar tydens die matriekafskeid-gesellighede gesien dat baie paartjies verkies om in statige, ouerige model-voertuie op te daag.”

Le Roux en sy span soek na meer mense wie se antieke voertuie in motorhuise staan en nooi hulle om dit weer op die pad te probeer kry.

Die organiseerders betuig hul dank teenoor die eienaars en besoekers wat die dag saam geniet het. Hulle beoog om weer ’n byeenkoms te hou. Verder word die moontlikheid ondersoek om ’n veteraan-voertuigklub in die Waterberg-omgewing op die been te bring.

Vir navrae bel gerus vir Pikkie Pienaar by tel. 082 490 6171 of Le Roux by tel. 082 325 6578.

Related Articles

Back to top button