Local news

Nonna doen ’n bietjie ‘naaldwerk’

Om ’n naald in ’n hooimied op te spoor verg baie geduld en vernuf, maar om dit in ’n hond se keelgat te soek en te verwyder verg ’n besonderse talent.

Op die X-straal foto is die naald duidelik sigbaar waar dit diep in Nonna se slukderm vasgesteek het.

Dr. Marina Bredell, veearts van die Kranskop Dierekliniek in Modimolle, het aan Die Pos vertel dat sy by geleentheid al ’n vishoek uit ’n hond se bek moes verwyder, maar nog nooit ’n naald en garing nie.

Nonna, ’n sewejarige bassetteef, is op Vrydag 16 September veearts toe gebring omdat haar eienaar opgemerk het sy hoes gedurig. Bredell het vermoed dis lugpypontsteking en antibiotika voorgeskryf.

Toe Nonna ’n week later steeds aanhoudend hoes, het sy onraad vermoed en verdere ondersoek ingestel. Daar is X-strale geneem en dis toe dat die veearts die naald, met die garing steeds deur die ogie, in die hond se slukderm raakgesien het.

Só lyk die ekstra lang tangetjie waarmee dr. Marina Bredell (veearts by Kranskop Dierekliniek) die naald verwyder het.

“Ons moes dadelik die naald verwyder en het onder narkose daarna begin soek waar dit diep in die slukderm vasgesteek het. Dit was ’n spanpoging om die hond se bek groot genoeg oop te kry sodat ek die naald met spesiale piepklein flitsliggies en ’n ekstra lang tangetjie kon vasvat,” het sy gesê.

Gelukkig het die naald net een klein gaatjie in die slukderm gemaak wat volgens die veearts vinnig sal toegroei. Intussen het Nonna heeltemal opgehou hoes en word sy nou met antibiotika en pynstillers behandel.

Nonna se mens-ma, Ansa Pretorius, was geskok om te sien haar geliefde hond het ’n naald ingesluk.

“Ek het nie in my wildste drome gedink Nonna sal so iets in die hande kry en boonop insluk nie. Dis net ’n wonderwerk dat die naald nie groot skade aangerig het nie. Ek wil my opregte dank teenoor die knap veearts uitspreek wat die werk van ’n spesialis gedoen het om my Nonna te red,” het sy gesê.

Ná die operasie kon Nonna tuis aansterk waar sy met sagte kos en tonne liefde bederf is.

Pretorius en haar man, Gert, het in 2010 na die familieplaas naby Kranskop, wat aan haar pa, Corrie van Wyk, behoort het, terug- gekeer.

“Dis die eerste keer dat ons ’n opregte basset-hondekind het en die veearts het my destyds gewaarsku dat hulle geneig is om vreemde voorwerpe, selfs klippe, te kou en in te sluk, maar niemand kon hierdie petalje voorspel nie,” het sy laggend vertel.

Related Articles

Back to top button