Local news

Musikant steel kollig met sy nuutste snit

’n Jong musikant en sanger van Mookgophong, Logan Pietersen (30), is in die kollig met ’n splinternuwe enkelsnit — hierdie keer uit sy eie pen.

Hy werk reeds 11 jaar in die musiekbedryf en het al talle hoogtepunte behaal soos om deur te dring na die Top 96 van seisoen drie van The Voice SA en die Top 46 van Maak My Famous.
Pietersen het ook in 2020 twee oudisies geslaag om Suid-Afrika in New York te verteenwoordig, maar hy kon weens die Covid-19-pandemie nie hierdie droom verwesenlik nie.

“Ek sing al van kleintyd af. Toe ek agt jaar oud was, het ek my oupagrootjie se kitaar in die hande gekry en op my eie begin tokkel. My pa het my drie drukke geleer. Ek het begin speel en sing en nou skryf ek my eie musiek. Ek skryf die beste wanneer ek deur ’n moeilike tyd gaan soos toe my suster in 2018 onverwags dood is,” het hy aan Die Pos gesê.

Nadat hy groot sukses behaal het met sy debuut-enkelsnit, “3 Weke”, is “Ex Probleem” die nuutste op sy kerfstok.

“Dit gaan oor tipiese probleme wat ’n liefdesverhouding laat sneuwel en jou skepties maak vir toekomstige verhoudings,” het hy vertel.

Sy eerste enkelsnit pryk al amper ’n maand lank bo-aan Vaal Stereo se trefferparade en hy glimlag breed daaroor. Logan is ’n aanhanger van country-musiek en sy droom is om sy liedjie in Nashville in die VSA te gaan sing waar sy rolmodel, die sanger Kip Moore, is.

Hierdie liedjie lê hom na aan die hart omdat dit hom gemotiveer het om homself los te maak van die houvas wat sekere mense op sy geluk gehad het. Hy glo ook dat dit vir luisteraars wat self deur ’n moeilike tyd gaan, iets kan beteken en dat mense daarby sal aanklank vind en die storie hul eie sal maak.

“Ek wil net alles met liefde, opregtheid en nederigheid doen,” het hy gesê.

Pietersen sal graag in die toekoms ’n drieman-musiekgroep op die been wil bring om ’n voller klank met gehore te kan deel. Buiten vir musiek, hou hy van skryf, visvang, motorfietsry en 4×4-avonture.

Related Articles

Back to top button