Local news

AGS Kerk hou eeufeesviering

Die AGS Kerk in Bela-Bela is vanjaar 100 jaar oud — oftewel 101, omdat geen kerkaktiwiteite tydens die pandemie in 2021 kon plaasvind nie.

“Ons het gemaak soos die Olimpiese spele wat in 2020 in Japan moes plaasvind, maar toe met ’n jaar uitgestel is. Ons kan uiteindelik ordentlik feesvier,” het Johnathan Mouton, leraar van die kerk, gesê.

Volgens die kerk se geskiedenis het die Pinksterbeweging voor 1908 posgevat. ’n Gebrek aan fondse van oorsese kerkinstansies het egter daartoe gelei dat sendelinge in Suid-Afrika net min moes oorleef.

Dit was te danke aan die kultuur van die gemeenskap, wat veral in Pinksterkerke gevind word, dat herlewing plaasgevind het, het Mouton vertel.

Hoewel die oorsprong van die AGS Kerk in Bela-Bela tot ’n dispuut gelei het, dui alle navorsing daarop dat die kerk in 1921 in Bela-Bela gevestig is.

Gemeentelede het aan die begin in plaasopstalle en in huise byeengekom, het Mouton gesê. Die kerkgebou is in 1940 teen ’n bedrag van R2 000 gebou.

Ene past. Vermeulen was die destydsestreeksopsiener van die gemeente en die leraarspos is beklee deur past. P.M. le Roux nadat die kerkgebou uiteindelik voltooi is. In 1942 is 95 lidmate en 99 kinders opgeteken in die kerk se eerste notule.

Die oorspronklike pastorie is direk langs die kerk gebou en het deur die jare van eienaar verwissel. Die tweede pastoriegebou is in Mentzlaan.

Die gemeente het altesame 21 leraars tot hul gemeente sedertdien verwelkom. Mouton en sy vrou, Naomi, het kort voor die pandemie in 2020 by die kerk ingeskakel.

“Ek dink ons het baie goed gegroei ondanks die pandemie. Daar is elke Sondag sowat 130 gemeentelede in die kerk en ons saai ons dienste steeds oor die internet uit vir mense se gerief. Daar is baie mense wat deesdae vanuit ander dele van die wêreld wil sien wat in ons gemeente gebeur,” het Mouton gesê.

“As die Here wil sal Hy die kerk se toekoms verder spaar omdat Hy self vir ewig ’n lig vir die dorp en sy mense sal bly.”

Die kerk se huidige en langsdiendenende lidmate sluit in inwoners André Sinosich, Irene en Tjaart van der Walt en Bets Els.

Die kerk nooi die gemeenskap om in die vieringe te deel wat van Vrydag 30 September tot Sondag 2 Oktober gaan plaasvind. Die Vrydag om 17:30 vind ’n piekniek en bring-en-braai by die kerk plaas, met ’n opvoering wat vir groot vermaak sal sorg. Saterdag sal daar ’n markdag met ’n verskeidenheid kosstalleties, ’n teetuin en vermaak vir die jongspan wees.

Die eeufeesvieringe sal op Sondag 2 Oktober met ’n erediens en ’n ete afgesluit word.

Vir navrae kan mense tel. 082 923 9744 skakel.

Related Articles

Back to top button