Local news

Oorsaak van verwoestende veldbrand nog onbekend

Die oorsaak van die verwoestende veldbrand wat op Donderdag 18 Augustus by die informele nedersetting langs die Jasper-pad uitgebreek het en die aangrensende wildsplaas van Jan (70) en Annamarie (67) Botha, in puin gelê het, is nog nie vasgestel nie.

Die Botha’s het 21 jaar gelede die wildsplaas op die Jasper-pad, net buite Modimolle, gekoop en dit onder die naam JB Game Ranch bedryf. Mettertyd is ’n plaashuis, drie ander woonhuise, 10 kothuise vir gaste, onthaal-en konferensiesaal, talle buitegeboue en twee groot stoorkamers opgerig. Daar is ook ’n negeputjie gholfbaan aangelê met ’n klubhuis. Alles behalwe die twee stoorkamers, wat sinkdakke het, is deur die wegholveldbrand verwoes. Drie voertuie het ook in die slag gebly.

Die egpaar is tans besig om die moontlikheid te ondersoek om die plaaslike owerheid aanspreeklik te hou vir die skade wat hulle tydens die brand gely het omdat daar glo geen brandbane op die aangrensende munisipale grond is nie. Volgens die Bothas was hulle genoodsaak om hul huisversekering gedurende die Covid-19-pandemie te kanselleer omdat hulle geen inkomste vir besprekings van akkommodasie of troues gekry het nie.

Volgens die polisie se ondersoekbeamptes het die brand op munisipale grond, wat direk grens aan die Bothas se plaas, uitgebreek. Hierdie area word glo gebruik as gemeenskaplike weiding vir inwoners van die township wat vee besit. Hulle voer aan dat daar ’n ooggetuie na vore gekom het wat glo iemand by die veld sien ingaan het. Die veldbrand het na bewering begin nadat die betrokke persoon terug gekeer het na die township.

Hoewel daar talle bewerings gemaak is dat die brand deur kosmaakvure van die aangrensende sinkhuise van die Jasper-township (Uitbreiding 13) veroorsaak is, is daar egter geen tekens van enige brandreste of skade daar nie.

Die Pos het op Maandag 22 Augustus saam met Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, en Wiets Botes (Wyk 12 se raadslid) die gebied besoek.

Van Staden het bevestig dat die brand wel op munisipale grond ontstaan het, maar dat die sny van brandbane deel is van rampbestuur wat die verantwoordelikheid is van die Waterberg-distriksmunisipaliteit (WDM) en nie die plaaslike owerheid nie.

Moses Sithole, hoof van die rampbestuur afdeling (WDM), het aan Die Pos verduidelik dat regeringshulp in die vorm van kospakkies of soms tydelike skuiling, deur Sassa gebied word wanneer huise in die township afbrand. Volgens hom kan die regering slegs toetree wanneer daar ’n ramptoestand verklaar is soos in die geval waar die Ronwil-vakansieoord in 2014 afgebrand het.

Hy beveel aan dat enige eienaar van ’n gasteplek by die provinsiale departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewing en toerisme (LEDET) moet aanklop om hulp waarna hulle die saak kan voorlê aan die departement van samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings (CoGHSTA).

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button