Local news

Boerdery is dié jongboer se forte

Met die afdraaipad na die plaas, Smaldeel, by Tuinplaas, kry ’n mens die gevoel van “’n netjiese boer” en jy word ook nie teleurgestel nie.

Elke trekker en implement staan op sy plek in die groot skuur.

“Kom ons ry sommer na die agterste aartappelland toe,” groet die man met die sagte groen oë en breë glimlag jou.

Daniël Opperman van Mookgophong was nog ’n tjokkertjie toe hy begin droom het om eendag ’n boer te wees en vandag op 40-jarige ouderdom dra hy die titel as die Transvaal Landbou Unie Suid-Afrika (TLU SA) se Jongboer van 2022. Hy is onlangs as wenner aangewys tydens die jaarlikse kongres.

Daniël en sy getroue trekker.

Opperman het geen landbou-opleiding nie en geen van sy familie is boere nie. Nadat hy aan Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong gematrikuleer het, het hy as elektrisiën gekwalifiseer en daarna as helikoptervlieënier.

Hy het vyf jaar gelede voltyds begin boer op grond wat hy gehuur het en die afgelope vier jaar boer hy op sy eie grond.

“Ek het nooit die toekenning verwag nie, maar ek is nederig dankbaar. Ek boer met my hart, passie en genade van die Here. ’n Goeie vrou soos my Ilani is wat nodig is om ’n sukses te maak. Sonder hierdie dinge in my lewe sou ek dit nie kon doen nie. Boerdery is nie ’n werk nie; dis ’n roeping,” het hy nederig gesê.”

Sy mentor is George Barnard, ook ’n aartappelboer wat hom met raad bygestaan het. Die Oppermans het twee seuns, Niel (7) en Liam (5).

Hy plant al die gewasse onder kontrak en binne die volgende twee weke sal die ertjie-oes gereed wees. Die ander gewasse is groenbone, klein witbone en dan sy gunsteling, aartappels.

“Ek boer met aartappels, want dit is ’n trotse gewas,” het hy laggend gesê.

Die besproeiingsgrond beslaan 200 ha waarvan daar tans 40 ha aartappels en 20 ha ertjies is. Aanstaande week word die groenbone geplant. Die plaas is 643 ha en hy het ook ’n vennoot wat nie direk by die boerdery betrokke is nie. Daniel het ook nou ’n rooi Brahmaanstoet begin, maar dit is nog in sy kinderskoene

“My droom vir die toekoms is om volhoubaar te wees en ek streef daarna om ’n plek beter te laat as wat ek dit gekry het. Begin in geloof en bly nederig en omring jou met mense wat waarde toevoeg tot jou lewe,” is sy raad aan ander jong boere.

Opperman is lid van die Crecy-boerevere-niging en vertel die Potgietersrus Distrik Landbou Unie (DLU) het hom ook gemoti-veer om in te skryf vir die kompetisie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button