Local news

Waterprobleme vinnig opgelos

Die gemeenskap van Vaalwater is afhanklik van watervoorsiening vanuit ’n aantal boorgate in die omliggende gebied.

Luidens ’n mediaverklaring wat op Woensdag 31 Augustus deur die VF Plus uitgereik is, het hulle op Vrydag 26 Augustus ’n oproep van ’n inwoner in Vaalwater ontvang wat die gebrek aan varswater onder hul aandag gebring het.

Volgens die plaaslike owerheid se verteenwoordiger is daar vier privaat mense wat boorgatwater aan die munisipaliteit voorsien. Die betrokke grondeienaars stuur maandeliks ’n rekening aan die owerheid vir betaling.

Johannes Mabula, ’n munisipale beampte wat in die waterafdeling werk, het bevestig dat een van hierdie plaaseienaars die voorsiening van water glo vir 48 uur gestaak het weens uitstaande betaling van die vorige maand se rekening.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong munisipaliteit, waaronder Vaalwater val, het dadelik met die betrokke persoon in verbinding getree en gereël dat die rekening op Maandag 29 Augustus vereffen word.

Die plaaslike munisipaliteit het bevestig dat hulle ses boorgate in die gebied besit met die nodige geregistreerde servituut en gebruiksregte. Hierdie boorgate is tans in werkende toestand en word deur Eskom van krag voorsien — nie deur middel van kragopwekkers nie.

Van Staden het aan Die Pos gesê dat daar gewoonlik minstens sewe boorgate is wat deurgaans aan Vaalwater water voorsien.

Die watervoorsiening aan die dorp is intussen herstel.

Related Articles

Back to top button