Local news

Geliefde storieverteller gegroet

Inwoners van Modimolle is hartseer om te hoor dat Koos de Wet (73) sy jarelange stryd teen kanker op Vrydagaand 2 September verloor het.

De Wet, beter bekend as Koos Koedoe, het die afgelope 40 jaar in Modimolle gewoon waar hy vir 10 jaar (1982 tot 1992) as onderwyser en afrigter by Hoërskool Nylstroom gewerk het. Hy was self ’n kranige hekkiesatleet in sy jong dae en het atletiek en hokkie afgerig. Na sy aftrede het hy as distriksbestuurder vir Karoo-Ochse-veilings gewerk en later in 2001 ’n suksesvolle meubelvervoer onderneming gestig. Met sy afsterwe sal hierdie onderneming se deure nou sluit.

Hy is in 1949 op Kimberley gebore waar hy tot op 9-jarige ouderdom gewoon het. Daarna is die gesin na Dordrecht in die Oos-Kaap. De Wet het sy Hoërskool loopbaan in Ellisras (Lephalale) voltooi waarna hy by die destydse Normaal Kollege in Pretoria ’n BA-graad in geografie voltooi het. Hy het later gaan onderwys studeer by die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) in Johannesburg waar hy sy vrou Anna-Marie, ook ’n onderwysstudent, ontmoet het.

Die egpaar is in 1973 getroud en het onderskeidelik in Johannesburg, Potchefstroom en Witbank gewoon voordat hul in 1982 na Modimolle verhuis het. Hulle is geseën met vier kinders, Santie, Kosie, Frank en Piet. Later het hul ook 10 kleinkinders ryker geword. Hulle is egter in 1998 geskei.

Twee van die De Wet’s se kinders woon in Modimolle. Santie de Wet, nou McCracken, het tot onlangs met haar gesin in Malawi gewoon, maar sedertdien saam met hul drie aangenome kinders na Amanzimtoti verhuis.

Kosie de Wet is nooit getroud nie en woon saam met sy ma in Modimolle. Frank de Wet, ’n pastoor, woon saam met sy vrou en hul drie kinders in Centurion, Gauteng.

Piet de Wet is getroud met Aliché, ’n musikant. Hul het vier woelige seuns en woon by die Modimolle Holiday Resort, net buite die dorp.

Frank de Wet het aan Die Pos vertel dat sy pa ’n legendariese storieverteller was en graag staaltjies oor sy wedervaringe as jagter, visserman en Kalahari-verkenner gedeel het. Hoewel hy ’n onnutsige kant gehad het was hy ook onverskrokke en heldhaftig. “My pa het jare gelede sy eie lewe gered toe sy trok se syspieël gebreek het en ’n skerf, deur die oop venster, sy nek oopgesny het. Hy het met een hand die wond in sy nek toegedruk om die bloeding te stop en met die ander hand bestuur tot waar hy mediese hulp kon kry,” vertel Frank.

“My pa het gereeld vir sy kleinkinders vertel dat hulle nie oor hom moet bekommer nie, want hy weet hy gaan hemel toe – nie omdat hy ’n goeie man was nie, maar omdat Jesus sy Verlosser is.”

’n Gedenkdiens is op Woensdag 7 September vanuit die Nederduits Gereformeerde kerk Nylstroom-Oos-gemeente gehou.

Related Articles

Back to top button