Local newsLocal sport

Jong man se wonderbaarlike pad na herstel

Robert Joubert (23) is ’n merkwaardige jong man wat weer moes leer loop nadat hy as kwadrupleeg gediagnoseer is en vir meer as ’n jaar aan ’n rolstoel gekluister was.  

Joubert het ’n aktiewe normale lewe as boerseun op ’n plaas buite Vaalwater gelei waar sy ouers, Leon en Ilse Joubert, met eksotiese wild, hoenders en skape boer. Almal ken hom as ’n lewenslustige en positiewe mens.

Maar op die oggend van 25 Augustus 2020, nadat hy die aand vantevore sy 21ste verjaardagpartytjie saam met vriende op die plaas gevier het, het hy wakker geword en met ’n skok besef dat hy glad nie kan beweeg nie. Hy was verlam van sy nek af ondertoe met geen herinnering van wat gebeur het nie.

Sy ouers het hom dadelik na die naaste hospitaal in Lephalale (Ellisras) gehaas waarna hy per lugambulans na die Milpark-hospitaal in Johannesburg geneem is. Drie dae en talle toetse later kon dokters vasstel dat twee van sy nekwerwels (C4 en C5) gebreek is terwyl ’n derde nekwerwel (C6) ontwrig is. Dokters het op 28 Augustus 2020 ’n operasie uitgevoer om skroewe en ’n plaat in sy nek te sit waarna hy vir twee weke in die intensiewesorgeenheid en twee weke in die hoësorgeenheid verpleeg was.

Kort ná die operasie moes hy die skoknuus hoor dat hy ’n kwadrupleeg is met geen gebruik van sy arms of bene nie.

“Ek kon niks onthou van die fratsongeluk nie en die dokters kon ook nie bepaal hoe my nekwerwels gebreek is nie, maar ek was nie van plan om moed op te gee nie,” het Joubert vertel.

Hy is na ’n rehabilitasiesentrum oorgeplaas waar hy vir bykans drie maande aangesterk het. Daar het hy daagliks alles ingesit met die oefeninge sodat hy ná drie maande sy vingers kon beweeg, arms oplig en selfs klein bewegings met sy bene kon maak. Hy was vasbeslote om weer eendag te loop.

Toe hy drie maande ná die ongeluk vir die eerste keer huis toe kon gaan, het hy met ’n elektriese rolstoel, wat deur middel van ’n fondsinsamelingsveldtog gekoop is, oor die weg gekom. Hy het tuis met ’n streng oefenprogram begin waar hy twee oefensessies van ongeveer twee uur elk per dag gedoen het. Sy pa het hom aan die begin getrou gehelp met die oefeninge, maar deesdae oefen hy op sy eie of met behulp van ’n werker.

Joubert vertel dat die vordering aanvanklik bitter stadig was, maar dat hulle elke klein mylpaal gevier het. Hy het in April verlede jaar begin oefen om met ’n loopraam oor die weg te kom.

Hoewel dit baie moeilik was om sy balans te hou, het hy geweier om tou op te gooi. Sy harde werk het vrugte afgewerp, want 18 maande ná die fratsongeluk kon hy met behulp van krukke op sy eie loop. Hy het in Mei vanjaar ’n video op sosiale media geplaas waar hy glimlaggend staan en dans — sonder krukke.

Dit is nou presies twee jaar later en Joubert kan terugkyk oor die steil opdraande wat hy moes aandurf om te kom waar hy is. “My grootste mylpaal is dat ek deesdae net met krukke oor die weg kan kom. Dit het bitter baie swoeg, sweet en trane geverg. Sonder my ouers, sussie Belinda, vriende en familie se aanmoediging en ondersteuning sou dit nie moontlik wees nie,” het hy gesê. Hy volg nog steeds ’n daaglikse oefenprogram.

Natuurlik kry hy soms ook dae wanneer hy moedeloos raak en kwaad is vir die mense wat die waarheid oor die aand van die ongeluk van hom weerhou.

“Dit is baie moeilik om berusting te vind omdat ek nie weet wat daardie noodlottige aand gebeur het nie, maar ek kies om hulle te vergewe.”

Joubert erken daar is daaglikse fisieke hindernisse, maar ook emosionele hindernisse. “Vergifnis is iets waaraan ek daagliks moet werk. Party dae is dit moeilik om te aanvaar dat ek nie meer so vry en onafhanklik soos voorheen kan leef nie. Ek mis dit om met my bakkie te ry, self te stort en aan te trek en om in my eie woonstel te bly,” het hy gesê. Hy droom daarvan om hom in die toekoms as onderwyser te bekwaam.

Hy geniet dit as vriende en familie by hom op die plaas kuier en verwelkom hulle met ’n breë glimlag. Hy stuur ook graag inspirerende boodskappe aan ander sodat hulle ook sal vasbyt in moeilike tye.

“Die Here is baie goed vir my. Ek is elke dag dankbaar dat ek nog leef en ek sal nooit moed opgee nie,” het hy gesê.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button