Local news

Bela-Bela en Modimolle twis steeds oor Verloren-landgoed se grense

Die munisipaliteite van Bela-Bela en Modimolle-Mookgophong se naels is uit oor wie die eiendomsbelasting moet kry vir  ‘n spoglandgoed, wat tussen die twee dorpe geleë is.

Die kwessie het onlangs onder die soeklig gekom nadat die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit ’n aansoek aan die munisipale afbakeningsraad (MAR) gebring het om die landgoed by hul munisipale gebied in te sluit. Verloren is in 2008 tot stand gebring.

Een gedeelte van die ontwikkeling val in Modimolle en die ander gedeelte in die Bela-Bela se munisipale distrik.

Die DA in Bela-Bela het in Julie tydens die laaste munisipale raadsvergadering ’n mosie gebring dat die munisipaliteit reeds jare lank versuim het om eiendomsbelasting op die eiendomme in te vorder. Hulle het ook gevra dat die saak as prioriteit beskou word.

Johan Mills, DA-raadslid, het gesê die verlies van miljoene rande se inkomste wat nooit ingevorder is nie, is kommerwekkend.

Die verlies is na raming ongeveer R1,6 miljoen per jaar.

Daar heers verder ’n dispuut oor die korrekte eiendomswaardes waarop belasting gehef word. Mills het gesê die markwaarde wat op die waardasierol verskyn, is nie noodwendig korrek nie.

“Die DA in Bela-Bela sal beslis alle moontlike druk uitoefen dat die agterstallige belasting en die huidige belasting wat tans verskuldig is, korrek op Bela-Bela se rekening gevorder word.

Fred van Heerden, ontwikkelaar, het in reaksie aan Die Pos gesê geen DA-raadslid van Bela-Bela het hom die afgelope 12 jaar genader of enige van Verloren se direkteure ontmoet om die aangeleentheid te bespreek nie.

Daar is volgens Van Heerden tussen 2007 en 2008 goedkeuring verleen vir die samesmelting van sewe plase om Verloren tot stand te bring. Ses het in Modimolle geval en een in Bela-Bela se distrik.

“Tydens die totstandkoming van Verloren het die Registrateur van Aktes die Modimolle-munisipaliteit as die plaaslike owerheid aangewys. Alles rondom die ontwikkeling — belastings, uitklarings, goedkeuring en bouplanne en die stemlokaal vir komende verkiesings — het onder die Modimolle-munisiplaiteit gesorteer. ’n Akte-soektog op enige gedeelte van Verloren bevestig dat dié munisipaliteit die plaaslike owerheid was.”

Dit het glo egter in 2018 aan die lig gekom dat Verloren-inwoners dubbele munisipale rekeninge begin ontvang het en geld verskuldig was aan albei munisipaliteite.

Deur ondersoek is bepaal dat die MAR nooit versoek is om die munisipale grense te wysig nie, het Van Heerden gesê.

Van Heerden skryf dit toe aan ’n oorsigfout aan die kant van die Modimolle-munisipaliteit.

“Nou blyk dit die DA verwag dat Verloren-eienaars en kiesers vir die fout moet betaal. Dit is doodeenvoudig nie haalbaar om met twee belastingstrukture in een ontwikkeling te werk nie. Dit is standaardpraktyk dat wanneer ’n ontwikkeling oor twee munisipale distrikte val, ’n sogenaamde verdeelde ontwikkeling vasgestel word en dat die MAR die saak regstel.”

Verskeie vergaderings met belanghebbendes en die munisipaliteite het gevolg.

Die oplossing was om ’n ooreenkoms te sluit (met munisipale raadsgoedkeuring in plek), wat sou verseker dat elke Verloren-inwoner slegs een rekening van Modimolle ontvang. Inwoners van Verloren het hieraan voldoen, het Van Heerden gesê.

Die goedkeuringsproses het egter skipbreuk in Bela-Bela gely nadat verskeie munisipale bestuurders bedank en verkiesings gevolg het.

“Indien raadslede en amptenare in die tydperk ná 2008 toegesien het dat daar ’n versoek gerig was aan die MAR, sou die proses jare gelede al afgehandel gewees het. Dit was duidelik ’n oorsigfout van die munisipaliteite.”

Van Heerden stel voor dat ’n nuwe ooreenkoms opgestel word en dat die situasie vir inwoners wat ooreengekom het om hul belasting aan een munisipaliteit te betaal so bly totdat die MAR-prosesse afgehandel is.

Van Heerden het intussen na die VF Plus uitgereik vir ondersteuning.

Jeedee Cloete, VF Plus-raadslid in Bela-Bela, het aangedui dat die aangeleentheid deeglik ondersoek word en dat alle opsies ondersoek sal word en samesprekings met kollegas in die Modimolle-munisipaliteit gehou sal word ten gunste van die Verloren-inwoners.

Die Pos het kommentaar van die Bela-Bela-munisipaliteit gevra, maar het sedert die raadsvergadering in Julie geen terugvoer ontvang nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button