Local news

N1-snelweg nou onder konstruksie

Goeie nuus vir motorryers wat gereeld die N1- en N4-snelweë gebruik, is dat Bakwena bekendgemaak het dat dié snelweë eersdaags opgegradeer word as deel van hul instandhoudingsprogram.

Die opgraderingswerk sal oor ’n tydperk van 18 maande plaasvind.

Luidens ’n verklaring van Bakwena word die opgraderings gedoen om padveiligheid te verbeter.

Die gedeelte van die N4 wat opgegradeer sal word, is tussen Kameeldrift en Ga-Rankuwa buite Pretoria. Die kontrakwerk sal tussen September vanjaar en Junie 2023 uitgevoer word.

Volgens Bakwena sal daar elke 5 km spoedbeperkings wees om motorryers se veiligheid te verseker en ook dié van konstruksiewerkers wat aan die pad werk. Die padagentskap beplan ook om een van die rybane vir verkeer te sluit wat beslis ’n invloed op die vloei van verkeer sal hê. Alternatiewe roetes sal dan ingestel word. Motorryers sal stadiger op die alternatiewe roetes moet ry omdat die padoppervlak net tydelik sal wees.

Die tweede gedeelte van die opgraderingsprogram is op die N1-snelweg tussen Pienaarsrivier en Bela-Bela. Dié kontrak het reeds in Julie afgeskop en sal na raming in Junie 2023 voltooi wees.

Daar sal verkeer ook op dele van die roete tot net een rybaan beperk wees.

Dié N1-snelweg is bekend vir die druk verkeer wat elke naweek op die roete ondervind word. Met die Desember-vakansie wat net om die draai is, sal motorryers geduldig moet wees en bykomende tyd by hul reisprogramme inwerk om moontlike vertragings teë te werk.

Die Waterberg-toerisme organisasie het in reaksie gesê die opgraderings word verwelkom, maar hulle is bekommerd dat die druk verkeer toeriste kan afskrik en die plaaslike toerismebedryf ’n gevoelige nekslag kan toedien. Die bedryf het eers nou weer aan die gang gekom ná die Covid-19-inperkings.

’n Woordvoerder van Limpopo-toerisme het gesê hulle het in 2020 altesame 81% van hul internasionale kliëntebasis verloor. Die verlies was in 2021 nog groter en die kansellasies van oorsese gaste word op 95% geraam.

Plaaslike besoekers aan die Waterberg het weens die pandemie en inperkingsmaatreëls met 86% gedaal. Limpopo het die grootste verlies aan besoekers in
hierdie tyd gehad.

Waterberg-toerisme wil graag die volgende wenke aan motorryers gee:

  • Besoekers moet sorg dat hul ekstra tyd vanaf Vrydag 23 September tot Donderdag 15 Desember by hul reisprogram inruim en betyds in die pad val.
  • Dié roete is Sondae druk besig en motorryers moet dalk oorweeg om eers op Maandae terug te keer huis toe.
  • Skaf ’n Bakwena e-skyfie aan om die rye voertuie by die tolhekke te vermy.
  • Indien motorryer nie oor ’n e-skyfie beskik, kan hulle by die meeste tolhekke ’n kredietkaart gebruik in die bane wat daarvoor gemerk is. Debietkaarte word nie aanvaar nie. Hou ook die korrekte bedrag kontant gereed om oponthoud te voorkom.

Die organisasie vereis dat die opgraderingswerk deeglik beplan word en dat enige vertragings in die voltooiing van die projek vermy moet word. Die kontrakteur sal korter dele van die pad opgradeer om onnodige vertragings en verkeersopeenhoping te voorkom.

Bakwena beveel aan dat motorryers waar moontlik die roete noordwaarts op Vrydae en Sondae suidwaarts vermy.

Die padagentskap het ook die kontrakteurs versoek om nie in die feesseisoen (14 Desember tot 11 Januarie) en oor die Paasnaweek (24 Maart tot 12 April 2023) bane te sluit nie.

Sigbare padtekens sal aangebring word om veiligheid te verbeter. Kontrakteurs moet bedag wees op swaarvoertuie wat die verkeersvloei kan belemmer waar slegs een rybaan oop is.

Alternatiewe roetes moet beskikbaar wees om verkeer beter te laat vloei. Tolhekoperateurs sal die vloei van verkeer by die Carousel- en Pumulani-tolhekke moniteer en bykomende bane oopstel as verkeer nie vloei nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button