Local news

Hulp gevra sodat meisie weer kan hoor

Lesers van Die Pos word gevra om hul harte en beursies oop te maak vir ’n jong meisie van Modimolle wat sedert haar babadae gehoorgestrem is.

Corné Janse van Vuuren en haar twee kinders, Barend (26) en Juany (20), is almal oud-Nylies wat steeds in die dorp woon.

Corné, wat al bykans 33 jaar in Modimolle woon, het aan Die Pos vertel dat Juany as baba die gehoor in haar regteroor verloor het toe haar oordrom gebars het. Volgens haar was die dokter wat Juany destyds behandel het, aanvanklik nie baie bekommerd daaroor nie. Hy het gesê dit gebeur dikwels dat die klein gaatjie in die oordrom mettertyd self herstel. Dit het egter nie gebeur nie wat beteken die gehoor in haar regteroor is nooit herstel nie.

Dit het nie vir Juany gekeer om in hoofstroomskole, Laerskool en Hoërskool Nylstroom, aan te pas nie. Sy het op skool graag aan atletiek deelgeneem en geniet nou nog ’n aktiewe leefstyl.

Sy het voorheen as kinderoppasser gewerk en vanjaar by die Klein Treetjies-kleuterskool in Modimolle begin werk. Tussendeur studeer sy aanlyn om haarself as kleuterskoolonderwyser te bekwaam. Haar onafhanklikheid is vir haar belangrik en daarom woon sy op haar eie in ’n tuinwoonstel in Modimolle. Sy is lid van ’n lyndansgroep, die Galway Girls, wat graag aan kompetisies en ander byeenkomste deelneem.

Nadat Juany verlede jaar vir gehoortoetse gegaan het om moontlik ’n gehoorapparaat te bekom, het ’n spesialis in Pretoria aanbeveel dat ’n operasie gedoen word om die oordrom te herstel waarna sy haar gehoor ten volle sal herwin. Die koste van die operasie, wat in ’n dagkliniek in Pretoria uitgevoer sal word, beloop bykans R50 000.

Hoewel Corné ’n enkelouer is wat nie oor ’n mediese fonds beskik nie, het sy vanjaar begin geld insamel sodat haar dogter hierdie operasie kan ondergaan.

Mariska Greyling, ’n inwoner van die dorp, het van die gesin te hore gekom en aangebied om te help deur lootjies te verkoop. Kaartjies is beskikbaar teen R50 elk en word tot Dinsdag 31 Augustus verkoop waarna die gelukkige trekking op Vrydag 2 September om 12:00 sal plaasvind. Groot pryse is op die spel.

Greyling het intussen ook by Koos van der Merwe van die Buiteklub in Modimolle aangeklop waar daar elke Saterdag vanaf 11:00 ’n losgoedveiling gehou word. Inwoners kan enige items skenk om op te veil waarvan die opbrengs aan Juany geskenk sal word.

“Hierdie saak lê my na aan die hart, want ek kan myself nie indink hoe die lewe sonder klank, gesels of musiek moet wees nie,” het Greyling aan Die Pos vertel. “Gelukkig is die gehoorverlies nie permanent nie; so met die nodige donasies kan ons as gemeenskap ’n reuseverskil in Juany se lewe maak.”

Belangstellendes kan vir Corné bel by tel. 082 657 7977 of vir Mariska Greyling by tel. 082 495 0642.

Related Articles

Back to top button