Local news

Gemeenskap spring in om brand te keer

’n Gesin van Bela-Bela het op Donderdag 18 Augustus met skok gesien hoe hul nuwe huis in Robertsonweg, waarin hulle skaars twee maande woon, deur vlamme bedreig word.

Vlamme het teen ongeveer 18:00 die grasdaklapa van Hannes en Karen Coetzer verswelg. Met die sterk wind wat gewaai het, is hulle dankbaar dat hul nuwe huis en omliggende eiendomme nie ook in die slag gebly het nie.

Verskeie bronne beweer die brand het by ’n hoop tuinvullis in ’n buurman se erf ontstaan en die sterk Augustus-wind het van die brandende tuinvullis geskep en oorgewaai na die Coetzers se erf. Hannes het die inligting met Die Pos se besoek bevestig.

Die inhoud van die lapa en die dak van die lapa is verswelg deur die vlamme. Daar is ook skade aan die skadunet-afdak op hul erf.

Eskom-beurtkrag het gegeld terwyl die brand gewoed het. Hannes het gesê dat hy gelukkig ’n kragopwekker het en hy kon dit aan ’n drukpomp koppel om water oor die lapa te spuit. Hy het ook gesê dat die hulp vanuit die gemeenskap verstommend was en hulle waardeer dit opreg.

“Almal se reaksie op ons pleidooie wat ons op die dorp se sosialemediagroepe uitgestuur het, was ons redding. Die Bela-Bela-brandweerdienste het vinnig gereageer op die noodoproep en gehelp dat die brand nie verder versprei nie,” het Hannes gesê.

Hy het voorts gesê daar is baie stories oor die ontstaan van die brand. Een daarvan is dat sy seuntjie die brand gestig het en hy wil dit onomwonde stel dat dit nie waar is nie.

“Ons het skaars nesgeskop in ons nuwe huis en het nog nie eens die potjiekos-ete wat ons beplan het vir ons familie en vriende gehou nie, toe brand die lapa. Ons koester ook nie kwade gevoelens jeens die buurman in wie se erf die brand ontstaan het nie.”

Niemand is in die brand beseer nie.

  • Die nasionale brandverbod is sedert Mei van krag.

Die maak van oop vure word ten strengste verbied terwyl die brandverbod van krag is. Dit is onwettig om vullis in ’n erf te brand.

Die maak van brandbane en beheerde blokbrande benodig die toestemming van die Bela-Bela- brandbeskermingsvereniging, asook die departement van landbou.

Daar is ook munisipale wette wat inwoners verbied om tuinvullis in die dorpsgebied aan die brand te steek.

Oortreders staar ’n groot boete in die gesig en kan deur die polisie aangekla word van brandstigting.

Related Articles

Back to top button