Local news

ATKV-kunstefees in hul noppies met deelname

Die ATKV Waterberg-kunstefees, wat op Maandag 15 Augustus in Bela-Bela begin het, het die organiseerders se stoutste verwagtinge oortref met die rekord aantal deelnemers wat ingeskryf het.

Die Covid-19-pandemie het verhoed dat die kunsfees die afgelope twee jaar aangebied is.

Die kuns-, drama- en musiekkategorieë is reeds afgehandel.

Leerders van die Bela-Bela-laerskole, Modimolle Academy, Jinnah Park Primary Primary School, Laerskool Koedoeskop en van sover as Lephalale het in die kunsafdeling deelgeneem.

Plaaslike kunstenaars het pragtige items in die ope-afdeling van die houtdraaiwerk-kategorie opgelewer.

Die organiseerders is dankbaar vir Fredrich Nezar, beoordelaar, wat homself goed van sy taak gekwyt het.

Die hoogtepunte van die dramaopvoerings was die uitmuntende spel deur Hoërskole Warmbad en Nylstroom.

’n Nuwe vertolking van Rooikappie en die Wolf, asook die tonele “Skuilplaas” en “Lamb to the slaughter”, was van hoogstaande gehalte.

Die beoordelaars het Khomotso Selema, ’n leerder van Hoërskool Nylstroom wat die rol van Mary in die lam-vertolking uitgebeeld het, baie hoog aangeskryf.

Spesiale dank aan Ronel Nel, wat as beoordelaar opgetree het. Haar professionalisme, deeglike en opbouende kritiek was van onskatbare waarde, sê die organiseerders. Die inligtingsessie wat sy aangebied het, was ook baie leersaam. Haar passie vir drama was duidelik in die manier waarop sy die deelnemers tydens haar repliek hanteer het.

Die musiek-kategorie het minder deelnemers as in die verlede gehad. Die beoordelaars was aangenaam verras met die standaard van die deelnemers se musikaliteit en tegniese vaardigheid.

Kleuterskool Bosveldspruitjies se drom-item is uitgesonder as voortreflik.

Sarie Jacobs, wat 40 jaar lank in plaaslike musiekkringe betrokke is, het dié afdeling se beoordeling behartig.

Die algehele wenners in die kunsafdeling was Liz Barnard in die ope-afdeling (skilderkuns), Inge Botes in die hoërskole-afdeling (skilderkuns: pastelle), Hernu Nortjé (laerskole: stillewe) en

Wandré Jordaan het die beste onder die kleuters gevaar.

Die sang-kategorie was teen druktyd vandeesweek nog nie afgehandel nie.

Related Articles

Back to top button