Local news

Kunstenaar wat sinoniem met Klein-Kariba-oord was gegroet

’n Inwoner en bekende kunstenaar van Bela-Bela, Colin Dale Hogg (72), is op Maandag 15 Augustus in die Warmbad-hospitaal oorlede.

Hogg het 30 jaar gelede van Zambië na Bela-Bela verhuis en bekendheid verwerf vir sy pragtige kunswerke.

Hy het graag Bosveld-landskappe geskilder en het jare lank by die Klein Kariba-vakansieoord van sy kunswerke uitgestal. Vakansiegangers het dikwels tussen die kleurvolle skilderye gekuier.

Volgens sy stiefbroer, Johan Burger van Boksburg, was Hogg die afgelope paar jaar aan ’n rolstoel gekluister nadat sy been weens gangreen in die Steve Biko-hospitaal geamputeer is.

Volgens Burger was Hogg onlangs in ’n woordewisseling met ’n motorryer betrokke en hoewel daar nie ’n fisieke bakleiery was nie, het die voorval hom erg ontstel en het sy gesondheid daarna versleg.

Hogg se broer vertel dat hy ’n diabeet was en sy toestand vinnig versleg het. Hy is binne enkele dae ná die voorval in ’n koma in die plaaslike hospitaal opgeneem.
Inwoners sal hom onthou as die man in die rolstoel wat gereeld in die dorp was en met tye sy rolstoel vir kort entjies gestoot het om ’n bietjie oefening te kry.

“Ek het vir hom in die dae voor sy dood kom kuier en nou moet ek skielik sy roudiens reël. Ons albei het geskilder vir ’n lewe. Dit was vir my swaar om te sien hoe sy lewensgehalte agteruit gegaan het,” het Burger gesê.

“Ek sal hom onthou as ’n eerlike en regverdige man. Ek het veral sy deursettingsvermoë waardeer, want hy het ondanks sy gebrek sy passie vir kuns uitgeleef. Ons is dankbaar teenoor Wim de Wet, die vorige oordbestuurder van Klein-Kariba, wat hom die geleentheid gegee het om sy kuns daar uit te stal en deel te word van die oord.”

Burger beoog om die galery oor te neem en ook sy kunswerke daar uit te stal.

Hogg word oorleef deur sy broer, ’n seun en ’n dogter.

’n Private roudiens word vir hom beplan.

Related Articles

Back to top button