Local news

Bela-Bela se geliefde ‘wolvrou’ sterf aan hartaanval

Inwoners van Bela-Bela is diep getref deur die onverwagse dood van Estelle van Schoor (57), ’n geliefde sakevrou van Bela-Bela, wat op Woensdag 10 Augustus aan ’n hartaanval oorlede is.

Volgens haar familie het sy die dag in die Warmbad Produce-winkel in Pretoriaweg inmekaar gesak. Sy was vermoedelik reeds dood toe mediese hulp ontbied is. Sy en haar man, Jaco, is die eienaars van die winkel en was elke dag self aan die stuur van sake.

’n Familielid het aan Die Pos gesê hulle harte is baie seer, maar hulle berus in die feit dat sy in die hemel is. Hulle het elke geleentheid gebruik om goeie tye saam te beleef.

Estelle is in 1965 in Pretoria gebore. Sy en Jaco het drie kinders en ses kleinkinders gehad wat haar trots was.

Sy was deur die jare in Bela-Bela bekend as die “woltannie”. Vroue het gereeld by haar gaan aanklop vir raad met wolkeuses of om ingewikkelde patrone te bemeester. Sy was altyd bereid om te help en het mense aangemoedig om te brei of hekel. Estelle was ook saam met Jaco betrokke by die gasverkope. Inwoners wat die afgelope maande deur beurtkrag geraak is, sal kan getuig van haar vriendelikheid en hulpvaardigheid as hulle die winkel betree het.

Die familie het gesê hulle sal altyd haar ondersteuning en vrygewigheid onthou. Sy was ’n gelowige mens en het deur haar eie lewe ’n voorbeeld vir ander gestel.

Haar begrafnis het op Woensdag 17 Augustus vanuit die NG Warmbad-Wes-gemeente plaasgevind.

Jaco het in sy gedenkbrief gesê hy sal haar en haar lag nooit vergeet nie. Hy het gesê sy was ’n wonderlike vrou en ma vir hul kinders.

Haar ma, Rita McNear, het gesê haar dogter het ander se behoeftes altyd voor haar eie gestel. Sy is nogtans gelukkig oor die ontelbare goue herinneringe wat hulle saam deur die jare opgebou het.

Haar broer, Charls, het gesê dit sal vir hom moeilik wees om nie meer net die telefoon op te tel en gou met haar ’n gesprek te hê nie. Sy was altyd positief en vriendelik, het hy gesê.

Van Schoor laat haar man, Jaco, haar ma, Rita McNear, haar broer en suster, Charls McNear en Corine Flemmer, haar kinders en skoonkinders, Hanno en Vanessa van Schoor, Ockert en Demi van Schoor, asook Jackie en Marnus Adlem agter.

Haar kleinkinders op wie sy baie trots was, is Russel, Alex, Noah, Joshua, Moné en Owen.

Related Articles

Back to top button