Local news

Bek-en-klouseer ’n vuishou vir die beesbedryf

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het die veebedryf ’n vuishou toegedien toe hulle op Dinsdag 16 Augustus ’n amptelike verbod op die vervoer van beeste geplaas het.

Thoko Didiza, minister van landbou, het gesê dié stap volg nadat bek-en-klouseer in ses provinsies uitgebreek het.

Die landbousektor het kort voor en ná die uitbreek van die Covid 19-pandemie erge verliese ervaar toe daar ook weke lank ’n verbod op die verkoop en vervoer van gesplete hoefdiere geplaas is.

Die nuwe verbod is slegs van toepassing op die vervoer van beeste en nie op ander gesplete hoefdiere nie. Die wildbedryf word ook nie geraak nie.

Teen druktyd het die departement aangedui dat daar 116 gevalle van bek-en-klouseer in KwaZulu-Natal, Limpopo, Noordwes, Gauteng, Mpumalanga en die Vrystaat aangemeld is.

Die siekte is in landelike gebiede, op sekere plase en in enkele voerkrale aangetref.

Didiza het in ’n verklaring gesê beeste mag vir die volgende 21 dae nie van een eiendom na ’n ander verskuif word nie. Daarna sal die verbod weekliks hersien word.

Die minister het erken dat daar nie genoeg gedoen is om die siekte ná die vorige uitbrake te stuit nie en het onderneem om bykomende stappe te neem om te keer dat die siekte verder versprei.

Die enigste vergunning of toestemming om beeste te vervoer tydens die 21 dae verbod, is indien die lewering van vee aan ’n abattoir reeds geskeduleer was voordat die verbod ingestel is of waar beeste gereed gemaak word om geslag te word vir kulturele byeenkomste.

Betrokkenes moet in hierdie tyd amptelike permitte hê om dié diere te vervoer.

Beeste wat reeds in die krale by veilingshuise was voordat die verbod aangekondig is, moes binne 48 uur vervoer word.

Didiza het gewaarsku dat enigeen wat die verbod op vervoer oortree, aangekla sal word.

  • Verskeie rolspelers met wie Die Pos gesels het, het gesê dié verbod kan die bedryf ’n uiters gevoelige nekslag toedien.

“Dit is nie net veeboere wat geraak word nie. Slaghuise, supermarkgroepe, plaaswerkers, veilingshuise, bemarkers, afslaers, vervoerkontrakteurs, veeartsenykundige dienste — almal van ons byt die spit af omdat die regering nie genoeg gedoen het om te sorg dat die siekte tydens die vorige uitbrake gestuit is nie,” het ’n landbouleier aan Die Pos gesê.

“Hoekom word slegs die vervoer van beeste beperk, terwyl ander gesplete hoefdiere ook die siekte kan versprei?’ het hy gevra. “Wetsgehoorsame boere en veilingshuise het derduisende rande bestee om hul krale veilig te maak, maar wat het die regering gedoen om die uitbraak te keer?”

  • Die algemene simptome van bek-en-klouseer is diere wat ’n oormaat speeksel afskei, sere in die bek of aan die hoewe het en dan mank loop. Boere moet ekstra sorg neem om hul kuddes te moniteer en by die eerste tekens van die simptome hul naaste staat- of privaat veearts te kontak.

Related Articles

Back to top button