Local news

Kolgans-gesin stap toe so ewe by spreekkamer in

’n Buitengewone groep “pasiënte” het die afgelope week by dr. Roelof Coertze, bekende plaaslike dokter in Bela-Bela, se spreekkamer in Chris Hanistraat, opgedaag — nie vir mediese hulp nie, maar om ’n veilige hawe te vra.

Die Pos het op Vrydag 5 Augustus ’n foto van ’n leser geplaas van ’n groep kolganse wat op Woensdag 3 Augustus in Flamboyantstraat opgemerk is.
Coertze het die afgelope week aan Die Pos gesê dit was ’n verstommende ervaring toe die kolgans-gesin kort daarna doodluiters by sy spreekkamer opgedaag het.

“Asof dit elke dag gebeur, het ons gesien hoe die mannetjie en wyfie die trappe agter ons gebou opgeklim het met die kuikens in ’n ry agterna. Hulle het by ons agterdeur ingestap en hulself in die praktyk se kombuis tuisgemaak. Die kolganse moes seker gehoor het dat ek met voëls boer en hulle op ons plaas kan akkommodeer,” het Coertze geskerts.

Hy vermoed dat die ganse van die vlei by die ou Royal Northlands-gholfbaan in Bothastraat gemigreer het omdat hul habitat daar bedreig geraak het.

Die ou gholfbaan beskik steeds oor damme water, maar die gebied is baie verwaarloos. Die Pos het al berig oor al die inheemse bome wat daar afgekap word, vullis wat onwettig gestort word en erge waterbesoedeling. Die terrein het ’n toegangsroete vir voetgangers geword.

Volgens Coertze broei kolganse gewoonlik in lang gras naby waterbronne.

Die ganse se roete het klaarblyklik by die Royal Northlands-gholfbaan begin waarna hulle in Flamboyantstraat en Kretzchmarlaan afbeweeg het in die dorp se rigting.

Daarna het hulle waarskynlik tot in Lunaweg gestap en die praktyk vanaf die parkeerarea genader.

Daar was aanvanklike 10 ganskuikens toe hulle verlede Woensdag die eerste keer gewaar is, maar slegs agt het die spreekkamer gehaal.

Coertze het die ganse vir ’n tyd by die praktyk versorg en die afgelope naweek op sy plaas op die Alma-pad buite die dorp vrygelaat.

“Ek het eers die kuikens in ons dam vrygelaat en toe hul ouers. Nadat die mannetjie opgevlieg en die gebied van bo bekyk het, het die kolganse sonder twyfel besef hulle het uiteindelik weer ’n veilige tuiste gevind.”

Related Articles

Back to top button