Local newsNews

Vrou van Bela-Bela sterf onverwags aan hartaanval

Inwoners van Bela-Bela het op Saterdag 16 Julie met skok verneem van die skielike dood van Ilse Myburgh (45).

Haar hartseer familie sê sy het op Woensdag 6 Julie nog haar verjaardag gevier.

Haar lewensmaat, Jason Smit, het aan Die Pos vertel dat hulle op dié dag gereed gemaak het om hul huis te verlaat toe Myburgh skielik borspyn ervaar het.

“Sy het gaan sit en probeer ontspan, maar toe sy ook kla van ’n pyn in die arm, het ek dadelik vir dr. Victor Emslie geskakel vir hulp. Op sy aandrang het ek haar dadelik na die spreekkamer geneem waar twee dokters vir haar gewag het. Hy en dr. Adriaan Briel het toetse gedoen en dit was tydens die elektrokardiogramtoets (EKG) dat hul gesien het dat Ilse moontlik ’n ernstige hartprobleem het.”

“Die dokters was skaars ’n paar sekondes uit die spreekkamer, toe Ilse inmekaar gesak het. Dr. Briel het ingestorm en vir ongeveer ’n halfuur noodbehandeling op haar toegepas, maar dit was tevergeefs. Sy het in die spreekkamer aan ’n hartaanval gesterf.”

Smit het vertel dat Myburgh die vorige Maandag vir ’n mediese ondersoek gegaan het. Slegs haar cholesterolvlakke het kommer gewek, maar verder was sy gesond, het hy gesê.

Sy het ten tyde van haar dood by Comtec in die dorp gewerk.

Alex Poalses, Comtec-eienaar, het in reaksie gesê sy was ’n konsekwente en toegewyde werker wat later ook ’n goeie vriendin geword het.

“Sy was altyd vriendelik, hulpvaardig en het die kliënte met raad en daad bygestaan. Haar plek by die werk is leeg. Ons sal haar glimlag, haar gesprekke en grappe mis,” het Poalses gesê.

Myburgh het 18 jaar gelede van Centurion na Bela-Bela verhuis en het by ander sakeondernemings gewerk voordat sy by Comtec aangesluit het.

Sy en Smit was ou skoolvriende wat mekaar jare later weer raakgeloop het en die liefde het begin blom.

“Sy was ’n diep mens. Sy was onwrikbaar in haar norme en het graag haar medemens gehelp. Sy sou berge versit het vir haar familie en vriende,” het Smit gesê.

“Sy was altyd positief en het my deur moeilike tye gedra. Sy het altyd meer aan ander gedink as aan haarself. Sy het haar privaatheid hoog geag; so niemand het ooit kennis gedra van haar welstand of gesondheid nie. Haar gevoelens was haar eie.”

Smit se roudiens het op Saterdag 23 Julie by die Lighuis Kerk buite Bela-Bela plaasgevind.

Sy laat vir Smit, haar ma en ’n suster agter.

Related Articles

Back to top button