Local newsNews

Parkie dalk eersdaags deur inwoners bestuur

Die Reitzstraat-parkie in Bela-Bela, wat die laaste paar jaar ’n doring in die vlees vir inwoners geword het, kan dalk in die toekoms die verantwoordelikheid word van ’n groep inwoners wat die estetiese waarde van die parkie wil bewaar.

Rika Kruger, DA-raadslid, het aan Die Pos gesê ’n vergadering is op Woensdag 20 Julie met amptenare van die maatskaplike ontwikkelingsafdeling van die Bela-Bela-munisipaliteit gehou waartydens planne bespreek is om die parkie aan die gemeenskap te oorhandig.

Inwoners kla al jare lank dat onwettige aktiwiteite en vandalisme dié deel van die dorpsgebied versies. Swak dienslewering en geen onderhoud van die park se geriewe het die gemeenskap met ’n onooglike las pleks van ’n bate gelaat.

“Die plan is om die parkie aan gewillige gemeenskapslede te oorhandig om dit beter te bestuur en uit te bou. Die munisipaliteit sal op versoek van die parkbestuur sekere take moet verrig soos byvoorbeeld om gereeld die gras te sny.”

Die projek sal tydens die volgende raads-vergadering voorgelê word vir goedkeuring.

Die parkbestuur sal dan verantwoordelik wees vir die oop- en toesluit van die terrein. Hulle sal die reg van toegang beheer en indien daar onwettige aktiwiteite plaasvind of besoekers hulle swak gedra, sal dit by die polisie gerapporteer word.

Munisipale werkers het die afgelope week reeds begin om die riete by die onooglike vleidam in die park te verwyder. Kruger het gesê die dam sal waarskynlik gedreineer en opgevul word.

Die munisipaliteit se tegniese afdeling het na verneem word uiteindelik die waterlekkasie herstel. Inwoners om die parkie het maande lank tevergeefs die waterlek aangemeld.

Vrywilligers het die afgelope week 20 vragte vullis uit die park verwyder.

Kruger het gesê die infrastruktuur, soos die speelapparate en toiletgeriewe, se opgradering is steeds die munisipaliteit se verantwoordelikheid aangesien die parkie steeds munisipale eiendom bly.

“Ons het reeds ’n datum in Augustus geoormerk vir die groep bereidwillige inwoners om met die amptenare van die maatskaplike afdeling te vergader. Ons is opgewonde oor die positiewe verandering wat kan kom. Dit sal tot voordeel van die dorp wees.”

Related Articles

Back to top button