Local newsNews

Man sterf in ongeluk met bromponie

Die botsing tussen ’n klein wit Dyna-vragmotor en ’n bromponie in Modimolle het die lewe van die bromponieryer, AJ du Toit, geёis.

Du Toit (43) was ’n oud-Nylie en jarelange inwoner van Modimolle. Die ongeluk het op Dinsdag 19 Julie omstreeks 16:15 op die R101-deurpad by die ingang na die ModiMall- winkelsentrum plaasgevind.

Volgens ooggetuies het die klein vragmotor in ’n suidelike rigting op die R101-deurpad in die rigting van die hoofstraat gery. Ooggetuies beweer die vragmotorbestuurder het by die ingang van die winkelsentrum onverwags voor die aankomende verkeer beland. Een van die motorryers, wat reg agter die bromponie gery het, het aan Die Pos gesê hy het die ongeluk rakelings ontkom.

“Die verkeerslig was groen en ek wou reguit oor die kruising ry. Ek het uit die hoek van my oog die vragmotor gesien en spoed verminder. Toe dit skielik voor my indraai, moes ek baie hard rem trap om ’n botsing te vermy,” het hy gesê. “Ek het skielik net rook sien trek soos die bromponie probeer rem het en oomblikke later die verskriklike slag gehoor toe dit met die vragmotor gebots het,” het hy vertel.

Nooddienste-personeel was gou op die toneel om hulp te verleen. Wrakstukke van die bromponie het in die kruising gelê en ’n gedeelte van die pad is dadelik deur die polisie- en verkeersbeamptes afgesper. Du Toit se valhelm het in die middel van die pad gelê. Hy is op die toneel dood verklaar.

Volgens AO James Findlay, polisiewoordvoerder, is ’n saak van strafbare manslag geopen. Sodra die ondersoek afgehandel is, word die dossier aan die landdroshof oorhandig. Die hof moet dan bepaal of iemand strafregtelik aangekla moet word of nie.

AJ du Toit, bekende en geliefde inwoner van Modimolle, het op Dinsdag 19 Julie tragies gesterf in ’n botsing met ’n vragmotor.

Die wit Dyna-vragmotor het ’n Gauteng-nommerplaat gehad, maar verdere inligting omtrent die eienaar van die vragmotor is nie tans beskikbaar nie.

Du Toit se familie en vriende was geskok om te hoor van sy dood. Talle boodskappe van meegevoel is op sosiale media geplaas. Dit was duidelik dat Du Toit baie geliefd was.
Die Pos het met sy suster, Lizelle du Toit van Rustenburg gesels.

“Dit voel so onwerklik dat my broer nou weg is. Hy was ’n uitstekende sportman wat Springbokkleure vir Tae Kwon Do verwerf het en later jare ook ’n afrigter was. Sy gunstelingtydverdryf oor naweke was om saam met vriende te braai terwyl hulle rugby kyk. Sy humorsin was legendaries en ’n mens het nog vir dae nadat jy hom raakgeloop het, oor sy grappe gelag.”

Du Toit se ma, Nicolene (nou de Villiers), het in ’n briefie aan hom gesê:

“AJ, jy het so baie mense se harte aangeraak en jou lag was so aansteeklik. Jy wou altyd net goed doen aan ander — selfs al het jy jouself soms te na gekom. Jy was net vir ’n kort tydjie aan ons geleen. Jou stem is nou vir ewig stil. Ons gaan ontsettend baie na jou verlang, maar jy leef vir altyd voort in ons harte.”

Du Toit laat sy ouers, Nicolene en Johan de Villiers, Braam en Jemima du Toit, sy suster Lizelle en sy 11-jarige seun, Ruben, agter. Die familie het ’n privaat verassing in Modimolle gereël.

Related Articles

Back to top button