Local newsNews

Kinderhulplyn nou oop in Waterberg

Die Child Protection Hotline, ’n nasionale kinderbeskermingsorganisasie, is 12 jaar gelede deur Danie Loggerenberg van Pretoria gestig as ’n uitkoms en veilige hawe vir verwaarloosde en mishandelde kinders.

Hulle beskik oor 189 hulpsentrums regoor die land waarheen kinders direk kan skakel of ’n boodskap om hulp stuur.

Loggerenberg en sy span het op Vrydag 22 Julie ’n hulplyn vir Bela-Bela gestig ná ’n besoek aan die Bela-Bela-polisiestasie.

Loggerenberg het aan Die Pos en lede van die plaaslike polisie vertel van die nagmerrieondervindings wat kinders in hul eie huise deurmaak.

“Ernstige trauma verander ’n kind se lewe vir altyd. Ons skep die kortste uitweg om vir hulle hulp en ondersteuning te kry,” het Loggerenberg gesê.

“Dit is jammer dat die owerhede tans nog reaktief optree teenoor kindergeweld. Ons mikpunt is om proaktief en voorkomend op te tree in belang van ons kinders. Ons het die samewerking van die polisie, maatskaplike werkers, skole en die hof daarvoor nodig.”

Die hulpsentrums moet vir kinders ’n veilige hawe bied as hul vertroue geskend is deur die mense naaste aan hulle. Die hulplyn kan deur leerders van so jonk as gr.R en ouer gebruik word.

“Jong kinders van vier tot vyf jaar is nie opgewasse om korrekte inligting te verskaf en weet nie noodwendig hoe om ’n hulplyn te gebruik nie. Dit is hoekom hul staatmaak op volwassenes wat hulle vertrou. Mense wat buitengewone gedrag, opmerkings of letsels by kinders opmerk, moenie huiwer om namens die kinders op te tree nie.” Anonimiteit word gewaarborg, het hy gesê.

Die hulplyn se opgeleide personeel ontvang die slagoffer se inligting, bepaal in watter munisipale gebied die kind is en watter polisiestasie die naaste aan die slagoffer is en tree dan op om die kinders by te staan.

“Ons dra kennis van kinders wat hulplyne misbruik om hul ouers te manipuleer. Om dit uit te skakel, word elke oproep fyn nagegaan en word ondersoek ingestel na die egtheid van ’n oproep. Die werklike slagoffers word deur kundige mense ondersteun.”

Daar bestaan tans 10 hulplyne om 24 uur per dag, met die nodige opgeleide personeel, bystand in Limpopo te bied.

Loggerenberg en sy span is ook betrokke by skole om bewusmaking onder leerders, ouers en onderwysers te kweek.

“Die Covid-19-pandemie het kinders se stemme letterlik stilgemaak agter die maskers. Meer kinders het in hierdie tyd hulp nodig gehad en na ons uitgereik.”

  • Die nasionale Child Protection Hotline se nommer is tel. 076 900 7151.

In Limpopo is daar die volgende hulplyne: Bela-Bela (082 769 7358), Lephalale (072 868 6235), Polokwane (072 018 2832), Tzaneen (072 046 9153), Mokopane (076 188 0455), Thoyandou (076 420 9620), Makhado (076 432 9584), Phalaborwa (072 960 7546) en Giyani (076 161 6554).

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button