Local newsNews

Geliefdes groet groot gees in gasvryheidsbedryf

Vriende, gaste en geliefdes het die afgelope week hul meegevoel gedeel ná die dood van Abri Meyer (63), ’n bekende in die gasvryheidsbedryf.

Meyer is op Donderdag 21 Julie in Gauteng aan longkanker oorlede.

Hy was in die Waterberg bekend vir sy werk as oordbestuurder van die Sondela-natuurreservaat en Spa net buite Bela-Bela.

Hy was voor sy dood verbonde aan die Kuungana Bush Lodge, tussen Pretoria en Bronkhorstspruit, waar hy talle geleenthede aangebied het.

Hy word deur sy kollegas en vriende beskryf as ’n baanbreker in die gasvryheidsbedryf.

Volgens inligting wat sy familie met Die Pos gedeel het, is Meyer in 1958 in Tsumeb, Namibië, gebore. Hy het in 1976 aan Hoërskool Etosha gematrikuleer en was destyds ’n Namibiese 100 m-naellopekampioen.

Hy het ná skool aan die Potchefstroomse Universiteit, asook die Universiteit van Pretoria, in personeelbestuur gestudeer. Hy het ná sy studies by die Weermag aangesluit waar hy ná agt jaar as lt. kol. uitgetree het. Meyer het groot spore in die farmaseutiese bedryf getrap voordat hy by die gasvryheidsbedryf aangesluit het.

Sy kollegas het gesê dat hy ’n natuurlike aanleg gehad het vir dié industrie en gou groot opgang gemaak het. Van die ander oorde waarby Meyer as bestuurder betrokke was, was Sun City, Legend Lodges en as geleentheidsbestuurder vir Village and Life Travel Group.

Hy word onthou as ’n joviale mens wat vriend en vreemdeling met openhartigheid en vriendelik verwelkom het. Hy het aansteeklike energie gehad en personeel aangespoor.

Een van sy kollegas het gesê dat hy ’n onuitblusbare bron van energie en ’n positiewe vriend was.

Hy was ook bekend vir sy vaardighede agter die kospotte. Sy kooltert,” Irish Stew” en boerekos was baie gewild en hy het gereeld by personeelgesellighede, op aandrang van sy kollegas, hierdie disse voorgesit.

Meyer se gedenkdiens vind op Vrydag 29 Julie vanuit die NG Eden-gemeente in Edenvale plaas.

Related Articles

Back to top button