Local newsNews

Vroue hou spoggeleentheid

Die lede van die Vroue Landbou-unie (VLU) se Naboomspruit-tak in Mookgophong het hul staal gewys met ’n spoggeleentheid wat op Saterdag 2 Julie by Die Oog-aftreelandgoed buite die dorp aangebied is.

Die geleentheid was ’n fondsinsameling vir die tak se welwillenheidsprojekte, asook om aanstaande jaar die VLU-kongres aan te bied.

Hoewel die tak se ledetal maar min is in vergelyking met ander takke, moet dié vroue nie onderskat word nie.

Die bekende wenner van Koekedoor 2016 wat op KykNet uitgesaai is en een van die aanbieders by Ontbytsake, Corli Botha, was die gas vir die oggend. Sy het die 250 spoggerige vroue gewys hoe om koek op ’n moderne manier te versier. Sy het ook gewys hoe maklik dit is om heerlike peuselhappies te maak.

“Ek het die oggend ontsettend baie geniet en veral die vroue se interaksie. Ek het die samesyn geniet en dat elkeen so uniek is en graag iets nuuts wil leer. Mense dink die VLU is net vir ouer vroue, maar dit is glad nie die geval nie,” het sy aan Die Pos gesê.

Botha het ’n passie vir kosmaak en bedryf reeds sedert 2013 haar eie onderneming.

So lyk die koek wat Corli Botha, bekende sjef en televisieaanbieder, op Saterdag 2 Julie tydens die VLU se spoggeleentheid in Mookgophong versier het.

Die bestuur en lede van die tak het reeds maande gelede begin met die beplanning van die oggend en vroue van heinde en ver het kaartjies gekoop. Die gaste het elkeen ’n geskenksakkie met heerlike bederf-items van die borge ontvang en ’n ligte ete is voorgesit.

“Ons is so dankbaar vir die borge wat ons ondersteun het en elkeen se bydrae word waardeer. Dit het ons die geleentheid gebied om geld in te samel en weer te kan terugploeg in die gemeenskap,” het Louise Groenewald, voorsitter van die tak, gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button