Local newsNews

Van Mookgophong tot New England in die VSA

Die Pos se verslaggewer in Mookgophong, Marietjie Steenkamp, het haar vlerke gesprei en was aan die begin van Julie vir ’n welverdiende vakansie in die sprokiemooie Vermont in die VSA. Sy neem lesers op ’n reis van haar onvergeetlike ondervinding.

Ná 15 ure se styf sit in die vliegtuig, soos sardientjies in ’n blik, land ons in ’n skouspelagtige staat in Amerika en siedaar die ongemak is vergete en beslis die moeite werd.

Vir ’n “gewone mens” soos ek, klink ’n vakansie in die wêreld se “voorste” land soos ’n droom, maar die werklikheid daarvan behels veel meer as net vakansie hou en soms moet jy jouself knyp om seker te maak dat die prentjie voor jou nie net ’n droom is nie.

Vermont is een van die vyf New England-state in die grote Amerika en grens in die noorde aan Kanada. Die skakerings van groen in die woud, wat die grootse deel van die prentjiemooi staat beslaan, wissel van sagte varinggroen tot die diepskakering van dennebome. Piepklein suikerbekkies fladder kort-kort verby jou om heerlike nektar uit die verskeie helderkleurige veldblomme te kry en die lieflike houthuise lyk of dit op ’n filmstel staan.

Marietjie Steenkamp kon haar behoorlik verkyk aan die Amerikaners se viering van “Independance Day”.

Ek drink alles in met gulsige teue — te bang dit gaan te vinnig verby. Ek is dadelik verlief op die geel skoolbusse wat my aan my kinderjare laat dink. Dit is nou vakansie in Vermont, maar in my geestesoog sien ek die uitbundige kindergesiggies langs die kronkelende heuwelagtige paaie wat wag op die kanariegeel skoolbus.

Om te dink dat hierdie groen prentjie in die winter verander na ’n wit sprokieswêreld vol sneeu en die talle hemelblou mere moet plek maak vir ysskaatsbane en die groen berge word ski-bane.
In die herfs is dit ’n mengelmoes van herfskleure wat nuuskieriges oor die wêreld betower. Vermont is die oorsprong van esdoringstroop en as ’n mens eers die ware Jakob geproe het, sal ander stroopprodukte nie jou smaak bevredig nie. Dit is hemels.

Dit is Maandag 4 Julie. In die VSA word dié dag op groot skaal gevier as “Independence Day”. Van vroeg af is die strate volgepak met mense wat opgewonde op die jaarlikse optog wag. Die geur van “hotdogs” vul die lug en ek betaal die $6 (R102) sonder om twee keer te dink oor die wisselkoers.

Vir die eerste paar dae sukkel ek om gewoond te raak daaraan dat deure nie gesluit word nie, geen heinings om die huise is nie en ek hoef nie my handsak in ’n verbete greep om my lyf vas te knyp nie. Alles is skoon, ruik skoon en jou kop word dronk van die stilte in die woud. Die Von Trapps van The Sound of Music-faam was nie verkeerd toe hulle die Vermont-heuwels as hul nuwe tuiste gekies het nie.

Twee weke vlieg verby en dit is weer “sardientjie tyd” terug huis toe. My dag en nag is omgeruil en my kop is nog in Amerika, maar ek is bly om tuis te wees.

Met die intrapslag verwelkom my liefste Remington Mauser Steenkamp my en spring my amper onderstebo en ek weet: Dié plek is my plek en dié land is my land en dié dorp en sy mense is my mense.

Related Articles

Back to top button