Local newsNews

Slange floreer in rommel naby Braksloot

Inwoners van Modimolle word gemaan om op die uitkyk te wees vir slange wat floreer in die rommel en tuinvullis wat orals in die omgewing van die Braksloot en Nicolstraat gestort word.

Willie en Mariaan Bannink, wat oorkant die strook veld in Nicolstraat woon, het op Maandag 11 Julie ’n noue ontkoming met ’n jong pofadder gehad.

Willie het aan Die Pos vertel hy was besig om die tuinvullis wat onwettig tot in die teerpad gestort word, op die sypaadjie voor hul huis skoon te maak toe die slang skielik onder die gemors uitgeseil het.

“Ek maak byna daagliks die veld skoon en gooi die gemors in swartsakke om weg te neem. Die onwettige storting hou net nie op nie. Ons het selfs al op die karkasse van honde en katte afgekom. Dit is dus geen wonder dat hier soveel slange is nie, want daar is volop muise en rotte,” het hy gesê.

Die Bannink-egpaar het oorspronklik op ’n plaas buite Vaalwater geboer waarna hul vir nege jaar in Modimolle gewoon het voordat hulle die laaste drie jaar in Australiё was. Hulle is sedert Februarie vanjaar terug in Modimolle.

“Ek het gelukkig ’n kursus in slanghantering en herkenning voltooi sodat ek weet wat om te doen wanneer ek ’n slang teёkom. Hier is egter deurentyd kinders en mense met hul honde wat hier langs stap. Almal se veiligheid is in gedrang weens die toename in slange,” het hy gesê.

Volgens kenners is die pofadder se kragtige sitotoksiese gif baie gevaarlik omdat dit weefsel aantas wat in ernstige gevalle kan lei tot die amputasie van vingers, tone en selfs ledemate.

Die Pos het gaan ondersoek instel en die hope tuinvullis en bourommel in die veld in Nicolstraat gesien.

’n Jong pofadder het op Maandag 11 Julie reg langs Willie Bannink verbygeseil waar hy besig was om rommel, wat onwettig deur ander inwoners gestort is, op die sypaadjie voor sy huis in Nicolstraat te verwyder. Die veiligheid van die buurt se kinders, wat daagliks verby hierdie veld loop en dikwels daar speel, is vir hom ’n groot bekommernis. Op die foto is die onwettige tuin- en huishoudelike vullis te sien

Die stormwatersloot naby die hoek van Nicol- en Collinstraat is ook propvol huishoudelike rommel en die oorblyfsels van wegneemetes. Dit wil voorkom asof rommel op enige plek in die veld gestort word.

Inwoners is van mening dat die probleem grootliks voortspruit uit die munisipaliteit se gesloer om die nuwe vullisstortingsterrein aan die onderpunt van Collinstraat naby Driehekke te open.

Hierdie vullisterrein moes al in 2020 voltooi gewees het, voer inwoners aan.

Volgens Theunis Victor, plaaslike slangvanger en -kenner van Modimolle, bly slange heeljaar aktief in die Waterberg en Bosveld-omgewing, want die matige winters verhoed dat hulle hiberneer.

“Slange is bedags minder aktief tydens die wintermaande, maar mense moet liefs beskermde drag dra wanneer hulle in die veld stap. Pofadders lê graag in die lang gras en sal byt wanneer hulle verras word. Die meeste slangbyte is onder die knie en daarom bied stewels en kamaste goeie beskerming,” het hy gesê.

“Slange maak hul graag tuis in knus plekke soos onder tuinvullis, sinkplate en bourommel soos wat oral by die Braksloot voorkom. Die onwettige storting van allerhande huishoudelike gemors lok ook peste soos muise en rotte wat op hul beurt weer slange lok,” het Victor verduidelik.

Victor het aan Die Pos vertel dat hy op Saterdag 2 Julie ’n giftige wipneuskobra by ’n woning langs die Braksloot gevang het. “Die wipneuskobra, ook bekend as die Bosveldkapel, is nie ’n aggressiewe slang nie en slangbyte kom selde voor, maar die dodelike gif is neurotoksies, wat die senuweestelsel aantas, asook sitotok-
sies, wat die weefsel aantas,” het hy gesê. Die slang is intussen in die natuur ver weg van enige wonings of nedersettings vrygelaat.

Inwoners word gemaan om nie self slange te probeer vang nie, maar liefs die hulp van ’n opgeleide slangvanger in te roep. Dit is nie nodig om slange voor die voet dood te maak nie. Mense kan ook foto’s van slange aan Victor stuur vir identifikasie om sodoende te bepaal of die betrokke slang dodelik giftig is of nie.

Bel gerus vir Theunis Victor by tel. 082 823 6910 of vir LD Pienaar by tel. 072 475 6414. Let daarop dat ’n minimale uitroepkoste gevra word wat aangewend word vir brandstof-uitgawes.

Related Articles

Back to top button