Local newsNews

Nóg ’n stap nader aan botaniese tuin

Daar heers groot opgewondenheid onder inwoners van Bela-Bela oor die moontlikheid van ’n botaniese tuin in dié toerismedorp.

Samesprekings hieroor is die afgelope week hervat en die loodskomiteelede is baie positief oor die vordering.

Die projek het in 2020 ontstaan nadat sowat 3 000 inwoners, onder leiding van Johan Mills (huidige DA-raadslid), ’n petisie onderteken het om die munisipaliteit te versoek om toestemming te verleen sodat ’n botaniese tuin op die grond langs die Renaissance-aftreeoord gevestig kan word.

Arnaud Le Roux, die nuwe voorsitter van die loodskomitee, het op Donderdag 14 Julie ’n voorlegging aan Gloria Seleka, Bela-Bela-burgemeester, Themba Mnisi, hoof van plaaslike ekonomiese ontwikkeling, asook Sephalo Mokgoloa van die plaaslike ekonomiese bestuurskantoor, gedoen.

Le Roux het vroeër vanjaar by Mills oorgeneem as voorsitter nadat Mills as raadslid verkies is.

Die aanvanklike voorlegging is tydens die inperkingstydperk aan die amptenary gedoen.

Die munisipale bestuur het destyds die konsep in beginsel aanvaar, maar weens Covid-19 is die saak nie as dringend beskou nie en is dit nie op die agenda geplaas vir bespreking nie.

Le Roux het tydens sy voorlegging gesê die vestiging van ’n botaniese tuin hou enorme voordele vir toerisme, ontspanning, opleiding, werkskepping en die verbouing van medisinale plante in.

Die voordele is legio, maar geld en goedkeuring word benodig om dié droom ’n werklikheid te maak.”

Hy het gesê: “Ons is gelukkig dat die grond in ’n erkende bewaringsgebied val. Juis daarom is die plan om die eerste stuk vir toerisme te ontwikkel. Die tweede gedeelte, waar die inheemse en eksotiese plante en bome gekweek kan word, is op die berggebied geleë en sal perfek wees om in die toekoms ’n sterrewag op te rig.”

Hy het gesê dit is die komitee se doel om jongmense te inspireer om by die bewaring van fauna en flora betrokke te raak omdat dit juis die jonger generasie is wat in die toekoms die bestuur van sulke projekte sal oorneem.

Seleka het ná die voorlegging gesê sy is ten gunste van die projek en dat dit ooreenstem met pres. Cyril Ramaphosa se beleid van vennootskappe tussen die regering en die privaat sektor.

“Daar is nog baie samesprekings wat moet plaasvind, maar ons sal help waar ons kan. Dit is ’n uitstekende idee om die vestiging van ’n botaniese tuin te gebruik as ’n hupstoot om ons natuurlike erfenis te bewaar.”

Mnisi het ook sy ondersteuning gegee, maar gesê die loodskomitee moet alternatiewe opsies in gedagte hou wanneer dit by die uitvoering van die projek kom.

’n Besoek aan die beoogde gedeelte word nou beplan waar komiteelede die verskillende terreinopsies aan die amptenare sal uitwys.

Related Articles

Back to top button