Local newsNews

Die Springbokvlakte treur oor ‘oom Salie’

“Maar jy, o pragtige Vlakte, het jou vrugbaarheid nooit kwaadwillig van iemand weerhou nie. Jy bly deur so vele jare ons geluksembleem. Kan ons nie maar vir ewig aan jou klou nie?”

Hierdie treffende versugting kom uit die pen van Salie van der Wal, gewaardeerde mens, skrywer en storieverteller van Mookgophong in sy ode: “Jy, o, Springbokvlakte” (2012).

Sy geliefdes het vandeesweek hulde gebring aan hierdie man wat ook nooit sý menswees en talle talente van ander weerhou het nie. ’n Man wie se gesin, familie en wye vriendekring ook aan sý nalatenskap wil vasklou.

Salmon Maritz (Salie) van der Wal (85) is op Saterdag 9 Julie ná ’n kort siekbed en ’n draai in die hospitaal in die versorgingseenheid van Ons Tuiste in Mookgophong oorlede met sy geliefdes by hom. Hy het ’n kwaadaardige gewas in sy long gehad.

Sy dood is met groot hartseer begroet en al die huldeblyke en dankbetuigings bewys opnuut hoe geliefd hy was.

Hy was in sy jonger dae ’n ervare jagter en het nog geglo dat ’n mens te voet en oor berge en dale jag, het sy familie vertel. Hy was ’n denker en filosoof en het sy gespreksgenote enduit geboei met sy talle voordragte, voorlesings, sienings en insigte. Tot sy jongste kleinkinders ken Duitse idiome en aanhalings uit die Afrikaanse letterkunde uit hul kop. Almal het sy liefde vir ’n groot Bosveldvuur geërf, want dit is immers daar waar al die gesprekke en konserte plaasgevind het.

Van der Wal was ’n liefhebber van mense en ’n onderwysman sonder weerga. Hy het die duisende leerlinge wat by hom Afrikaans, Duits of Sepedi gekry het se lewens- en wêreldbeskouings aangeraak deur sy aansteeklike energie en kreatiewe onderrig. Hy was by uitstek ’n taal- en kultuurmens, maar skolesport was sy groot gunsteling.

Van der Wal het in die Ohrigstad/Lydenburg-omgewing grootgeword en drama, toneel en tale aan die Heidelbergse Onderwyskollege gestudeer.

Hy het sy onderwysloopbaan aan Hoërskool Frikkie Meyer in Thabazimbi begin waar hy sy toekomstige vrou, Martie Cronjé, ontmoet het.

Hulle het vanjaar op Woensdag 6 April hul 60ste huweliksherdenking gevier.

Van der Wal was onder meer onderwyser aan Afrikaans Hoër Germiston, Hoërskool Hercules, Hoërskool Elandspoort (senior assistent), Hoërskool Balfour (vise-hoof), Hoërskool Hans Strijdom, (adjunkhoof), Hoërskool Christiana (hoof), Hoërskool Monument, Krugersdorp (hoof), Alberton-streekkantoor (superintendent van onderwys) en weer terug Bosveld toe vir sy aftrede.

Sy aftrede was egter van korte duur, want hy is in 1993 genader om die pos van hoof by die destydse CVO-skool in Potgietersrus (Mokopane) te beklee. Hy het ook klas gegee in Afrikaans, Duits en Noord-Sotho. Sy nalatenskap sluit ook die skryf van die skool se skoollied in.

Hy sal baie gemis word deur sy vrou, Martie, vier kinders, Santie Gildenhuys (Modimolle), Annarien Jacobs (Bela-Bela), Riaan van der Wal (Mookgophong) en Martinette Müller (Tzaneen), nege kleinkinders en twee aangetroude kleinkinders.

Sy gesin, familie en vriende groet hom op Vrydag 29 Julie om 12:00 vanuit die NG Kerk, Naboomspruit-gemeente in Mookgophong.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button