Local newsNews

Brandopleiding dié naweek by Sondela-oord aangebied

Die Bela-Bela-brandbeskermingsvereniging bied op Saterdag 23 Julie ’n opleiding- en inligtingsdag vir grondeienaars en plaaswerkers by die Sondela-natuurreservaat en Spa buite Bela-Bela aan.

Grondeienaars sal ’n voorlegging bywoon oor die korrekte hantering en bestuur van wegholbrande op hul eiendom.

Grondeienaars kan drie van hul plaaswerkers bring vir die opleiding van brandbestryding wat deur Working on Fire se brandbestrydingspan aangebied sal word.

Verskeie diensverskaffers en uitstallers sal tydens die geleentheid toerusting uitstal wat gebruik word om brande doeltreffend te bestry.

  • Die opleiding is aktueel en noodsaaklik nadat die nasionale brandverbod amptelik op Woensdag 1 Junie in werking getree het.

Die Waterberg en Springbokvlakte word veral in die wintermaande blootgestel aan wegholbrande. Duisende hektaar weiding en selfs strukture en woonhuise kan in die slag bly.

Wetgewing bepaal dat daar op hierdie laat stadium net met spesiale toestemming nog brandbane om plase gemaak kan word. Elke eienaar se aansoek sal op meriete hanteer word.

Brandpermitte kan slegs deur die brandbeskermingsvereniging uitgereik word en nie deur munisipale amptenare nie.

Beheerde blokbrand-aansoeke kan slegs aan die departement van landbou gerig word.

Indien laasgenoemde toegestaan word, word bykomende goedkeuring van die brandbeskermingsvereniging verlang.

Navrae aan die vereniging kan gerig word aan Mel Meyer by tel. 084 788 9291 of Arnaud Le Roux by tel. 082 325 6578.

Related Articles

Back to top button