Local newsNews

Goeie nuus vir eienaars van vuurwapens

Daar is groot verligting vir vuurwapeneienaars wie se vuurwapenlisensies verval het.

Die regering het aangekondig dat dié vuurwapens nie onwettig is nie en dat die eienaar steeds vir ’n hernuwing van die lisensie kan aansoek doen.

Dié uitspraak is in Mei 2022 in die grondwethof gemaak nadat die Fidelity-veiligheidsgroep en die minister van polisie mekaar in die hof uitgedaag het.

Die doel van die hofsaak was om die vervolging van vuurwapeneienaars te bevraagteken. Eienaars wat reeds aansoek gedoen het vir die heruitreiking van vuurwapenlisensies, het die gevaar geloop om vervolg te word omdat die rompslomp van die burokrasie nie die aansoeke betyds kan prossesseer nie.

Die uitspraak is nie net van toepassing op Fidelity se veiligheidsbeamptes nie, maar enige wapeneienaar. Die polisie kan dus nie ’n vuurwapeneienaar vervolg as hy of sy bewys kan lewer dat hulle reeds vir hernuwing aansoek gedoen het nie.

Die uitspraak bepaal egter dat vuurwapeneienaars aangekla kan word indien hulle glad nie oor ’n lisensie of magtiging beskik nie.

Die hernuwing van wapenlisensies sal deur plaaslike polisiestasies as nuwe lisensies hanteer word.

Die beampte sal verder vir ’n bevoegdheidsertifikaat vir die besit van die wapen vra en ook die geldigheid daarvan nagaan.

Ander belangrike dokumente wat die lisensie-aansoek moet vergesel is die vorige lisensie, die motiveringsbrief hoekom ’n persoon ’n vuurwapen moet besit en afskrifte van identiteitsdokumente.

Die vuurwapen wat veilig in ’n holster of geweersak is, moet ook aan die polisiebeampte getoon word.

Die aansoekvorm sal dan eers voltooi en die aansoek geprosesseer word.

In die geval waar ’n eienaar oorlede is, moet ’n afskrif van hul ou lisensie of ID, asook ’n eksekuteursbrief by die betrokke vuurwapenafdeling ingedien word.

’n Bela-Bela-polisiewoordvoerder het aan Die Pos bevestig dat die uitspraak goeie nuus vir vuurwapeneienaars is, maar daar is steeds sekere beperkings wanneer aansoeke ingedien word.

Related Articles

Back to top button