Local newsNews

Die mooi en lelik van pandemie saamgesnoer

Carla Botha is ’n boorling van die Waterberg wat vanjaar rimpelings in Afrikaanse literêre kringe veroorsaak het met haar debuutdigbundel genaamd “Geleende Seisoene”.

Hoewel sy deesdae ’n wêreldburger is wat in Abu Dhabi woon en werk, is haar voete stewig in die Waterberg geplant. Sy het aan Die Pos vertel sy het haar skoolloopbaan in 1989 by Laerskool Vaalwater begin.

Haar pa, Fanus, het destyds by die poskantoor, wat later Telkom geword het, op Vaalwater gewerk. Haar ma, Helena, en kleinsus Stephanie (nou Brits) was sielsgelukkig op die platteland.

Sy het in gr.6, op versoek van wyle Annatjie Blignaut, begin om Die Pos-koerant per fiets van huis tot huis in die dorp af te lewer. Botha het laggend vertel dat die sirkel nou voltooi is met ’n berig oor haarself in die einste koerant wat sy as kind afgelewer het.

Botha was op skool ’n kranige atleet wat aan bykans alle skoolsport deelgeneem het — van tennis, atletiek, netbal tot landloop. Daarmee saam het sy graag aan Afrikaanse kultuurfeeste deelgeneem met voordrag, poësie, voorbereide en onvoorbereide lees. Hoewel sy skrikkerig was vir die kollig, het sy dit nogtans geniet.

As lid van die Voortrekkers was dit vir haar heerlik om meer van die Afrikaner-kultuur te leer en met maats te sosialiseer.

Die gesin het einde 1995 na Mookgophong verhuis waarna Botha tot in matriek ’n leerder van Hoërskool Hans Strijdom was. Sy het ná skool haar tasse gepak vir Pretoria waar sy sport didaktiek en afrigtingswetenskap by die Tshwane University of Technology (TUT) gestudeer het. Sy het ook ’n nagraadse onderwys diploma voltooi sodat sy as sport-
afrigter en leerkrag (in Afrikaans Eerste Addisionele taal) by skole kon werk.

Die reisgogga het egter gebyt en in 2009 het sy ’n onderwyspos in Dubai aanvaar waar sy tot in 2012 gebly het. “Dit is al 13 jaar later en ek geniet steeds die verskillende kulture en uitdagings,” het sy gesê.

Botha het in 2013 ’n nuwe beroepsrigting ingeslaan en ’n BA-graad in Engelse literatuur en kreatiewe skryfkuns in Amerika voltooi.

Daarna het sy die Universiteit van New York se meestersgraadprogram in Parys, Frankryk, aangepak. “Dit was ’n wonderlike uitdaging om in die skryf van digkuns te kon spesialiseer,” het sy gesê.

“Reis is pitkos vir die skrywersbrein,” het sy gesê en erken dat haar rustelose voete baie graag reis om hierdie broodnodige pitkos te versamel.

Botha woon sedert 2016 in Abu Dhabi waar sy gereeld saam met mede-Suid-Afrikaners braai, kuier en kerk in Afrikaans bywoon. Hoewel sy die plaaslike kos geniet, verlang sy na haar ma Helena se kos, asook eg Suid-Afrikaanse geregte soos pampoenkoekies en potjiekos.

Haar debuutdigbundel is “gebore” te midde van die Covid-19-grendeltyd. Botha vertel: “Gedurende die twee jaar van die pandemie het ek ’n hele paar vriende aan die dood afgestaan.”

Toe sy besluit het om haar dagdrome en idees in ’n digbundel neer te pen, was haar doel om iets positiefs en blywend uit die pandemie te skep. Omstreeks dieselfde tyd het sy swanger geraak en vroeër vanjaar ’n pragtige babaseuntjie, nou al vier maande oud, ryker geword.

“Geleende Seisoene” word beskryf as ’n diep menslike gesprek met elke leser wat worstel met geloof, liefde en verlies. Botha verduidelik dat sy vanuit haar eie ervarings van verlies geskryf het, maar dat dit tog ’n universele ervaring en boodskap is.

“Een van die professore in Parys (Frankryk) het altyd gesê: If it doesn’t come from a deep place of honesty — don’t write it. Ek dink ek hou onbewustelik hieraan vas wanneer ek skryf.”

Botha het verder gesê dat sy van harte hoop elke leser kan by minstens een gedig in die bundel, aanklank vind.

Sy het aan Die Pos verklap dat sy reeds aan ’n digbundel in Engels werk wat hopelik binnekort op die rakke sal wees.

Related Articles

Back to top button