Local newsNews

Phodi-personeel steeds in duister oor toekoms van hospitaal

Waterbergers en personeellede van die Phodi Clinic in Bela-Bela (voorheen die gesogte St. Vincent’s-hospitaal) is steeds in die duister oor wat die toekoms inhou.

Geen nuwe pasiënte word sedert April by die hospitaal opgeneem nie. Die hospitaal se operasionele lisensie is ook nie hernu nie.

Inwoners van die Waterberg wat gesteun het op dié privaat mediesesorg, moet nou by hospitale in Gauteng gaan aanklop vir mediese hulp.

Die Pos het weer navrae aan African Health Care (AHC) gerig oor die moontlikheid dat die hospitaal verkoop gaan word, maar volgens Elsa Benadé, AHC-woordvoerder, is daar nog geen besluite geneem nie. AHC is aangestel om die hospitaal te bestuur namens die Phodiso Management and Consulting-maatskappy wat die hospitaal in 2017 gekoop het.

Op AHC se webblad word die Phodi Clinic steeds as ’n operasionele hospitaal beskryf.

Intussen wag die 37 afgedankte personeellede, wat skoonmakers, verpleegsters en administratiewe personeel insluit, steeds op hul werkloosheidsvoordele.

Die personeellede hoop om by ander mediese instansies werk te kry sodat hul in die huidige moeilike ekonomiese klimaat kan oorleef.

Freddy Pheli, sameroeper van die nasionale gesondheids- en geallieerde werkers-unie (Nehawu), het op Vrydag 24 Junie ’n vergadering met die personeellede by die hospitaal belê.

Nehawu het tydens die hospitaal se sluiting arbeidsprosesse begin sodat die werkers ten volle vergoed kon word. Die kommissie vir versoening, bemiddeling en arbitrasie (CCMA) is ook betrek.

Die personeellede het sedert 2021 kort-kort gesukkel om hul volle salarisse te ontvang. Van hulle het aan Die Pos gesê weens die interne administratiewe probleme het hulle soms slegs die helfte van hul vergoeding per maand ontvang.

Pheli het verlede Vrydag aangevoer die administrasie wat betref die personeellede se werkloosheidsversekering is ook nie alles in plek nie. Teen druktyd vandeesweek was dié probleem steeds nie opgelos nie.

Die onus rus nou op die personeellede om genoegsame bewyse te lewer dat hulle wel bygedra het tot die werkloosheidsversekeringsfonds.

Vrae word ook gevra oor die oorgangsperiode en bydraes wat gemaak is voor en tydens die hospitaal se oorgang van die St. Vincent’s-hospitaal in 2017 na die Phodi Clinic.

Pheli het gesê dit is teleurstellend dat die hospitaalbestuur nog nie die personeel se skeidingspakkette uitgewerk en uitbetaal het nie.

Verteenwoordigers van AHC het verlede Vrydag die nodige aansoekvorms vir uitbetaling van voordele aan die personeellede gegee. Hulle het ook verskoning gevra dat die proses gesloer het.
Pheli het gesê indien die Phodi-bestuur nie hul administratiewe prosesse spoedig uitsorteer nie, sal daar regsklagtes volg.

  • Pasiënte kan volgens die hospitaalbestuur steeds by die hospitaal se ongevalle-eenheid gestabiliseer word en indien verdere sorg benodig word, sal die pasiënt na ’n hospitaal met die nodige geriewe oorgeplaas word.

Die drie noodnommers van die eenheid wat aan Die Pos verskaf is, is tel. 082 773 2973, tel. 071 102 9727 of tel. (014) 736 2310.

Related Articles

Back to top button