Local newsNews

Padstal bring heimwee

Die Waterberg is geseёnd met talle interessante padstalletjies waarvan sommige al vir baie dekades wagstaan langs die besige roetes om aan honger reisigers lafenis te bied en ’n kykie in kontreikos te gee.

Die Nantes Padstal bestaan al 34 jaar langs die R101-deurpad, ongeveer 10 km buite Modimolle, op pad na Mookgophong en Mokopane.

Dit het oorspronklik aan Kotie en Jana Els behoort wat dit jaarliks slegs van November tot Februarie as afsetpunt vir die tafeldruiwe wat op die plaas verbou is, benut het. Met Kotie se dood in 2010, het sy seun, Kobie Els, die leisels oorgeneem en dit as voltydse padstal begin bedryf.

Die Pos het met Els gesels om meer uit te vind oor hierdie padstal wat die afgelope 12 jaar elke dag sy deure om 08:00 oopmaak.

Dit is nou nie iets wat ’n mens aldag teëkom nie — erdwurmtee! By die Nantes-padstal is daar van dié doepa wat kranige tuiniers graag in die wintermaande gebruik om hul plante mee te voed.

Hy vertel: “Ek het destyds vir meer as 10 jaar op passasierskepe in Amerika gewerk voordat ek teruggekeer het na ons plaas toe. Ek het die padstal deur die jare vergroot en vier jaar gelede ’n restaurant-gedeelte aangebou waar ons klein gesellighede soos verjaardae en spesiale vierings vir tot 50 gaste hou. Ons bedien op Sondae ’n heerlike buffet-middagete wat baie gewild is.”

Hoewel die padstal nie ’n dranklisensie het nie, kan gaste hul eie drank saambring.

Nog iets wat oor die jare ontwikkel het, is die wegneemetes op Woensdae. Inwoners plaas bestellings vooraf wat Els dan laatmiddag in Modimolle aflewer. Die spyskaart, wat weekliks per WhattsApp uitgestuur word, wissel heeltyd en van die gewildste opsies is krummelpap met kaiings en slaai, pasta of lasagna met slaai of heilsame groente en beesvleissop met mini-vetkoekies.

Die gewildste item op die spyskaart is die vetkoeke wat elke dag vars gebak word. Daar word nie afgeskeep nie en elke vetkoek word boepensvol gevul met geurige kerriemaalvleis of biltong en kaas. Talle instansies en selfs kerke bestel gereeld grootmaat vetkoeke vir geleenthede of verkopings by die padstal.

Els vertel laggend van ’n nuwe kliёnt wat hom die dag gedreig het met doktersrekenings as die vetkoek haar ’n galaanval gee.

“Gelukkig het sy niks oorgekom nie en vandag is sy een van my gereelde kliёnte,” het hy gesê.

Die gereelde reisigers tussen Modimolle en Mookgophong of Mokopane hou dikwels daar stil vir vetkoeke, tannie Marie se boerbeskuit en anysbeskuit, biltong en droёwors, vars vrugte en groente. Els het aan Die Pos vertel dat hy graag plaaslike klein sakeondernemings ondersteun en hul produkte in die padstal verkoop.

Vakansiegangers wat om die draai by die Modimolle-vakansieoord kuier, ondersteun ook die padstal.

Daar is ’n redelike verskeidenheid gebottelde konfyte waarvan sommiges deur Els gemaak word. Die ingemaakte peppadews en jalapenos word deur ’n gr.8-seun van Modimolle gemaak om te verkoop vir sakgeld.

“Met die gesukkel om vars appelkose te bekom om konfyt te kook, het ek verlede jaar 30 bome aangeplant sodat ek binnekort my eie vrugte kan oes,” het hy vertel.

Els se ma, Jana (82), werk nog elke dag vir ’n rukkie in die padstal sodat Els tussendeur aandag aan die druiweboorde, met 12 verskillende variёteite tafeldruiwe, kan gee.

Die plaas beskik oor ’n boorgat; dus is daar gelukkig altyd water. Dit is net beurtkrag wat problematies is, vertel Els. Om veiligheidsredes is daar orals kameras opgerig.

Hoewel die padstal nie geskenke en snuisterye verkoop nie, is daar heerlike soet- en sout eetgoed wat enigeen se mond sal laat water.

Bel gerus vir Kobie Els by tel. 082 298 8554 vir meer inligting of om plek te bespreek.

Related Articles

Back to top button