Local newsNews

’n Skatkis vol watertand-lekkernye wat wag

“So gelukkig soos ’n kind in ’n lekkergoedwinkel” is hoe talle mense hul besoek aan Lilies & Limes-padstal en restaurant beskryf.

Hoewel die padstal eers in Desember 2021 en die restaurant in Januarie 2022 geopen is, het “Sjef Cindy” al diep in die gemeenskap se harte gekruip.

Lilies & Limes is geleë op ’n kleinhoewe op die R33-deurpad, ongeveer 7 km buite Modimolle op pad Vaalwater toe en word deur Cindy Thomas behartig. Die tafels en stoele is vrolik gedek onder koeltebome in die tuin met ’n paar hangstoele wat veral die kinders baie geniet.

Die Pos het met haar gepraat oor haar terugkeer na haar wortels in die Waterberg.

“Ek het op ’n plaas in Mookgophong grootgeword waar my ouers, Hans en Almine Bodemer, al die jare met waatlemoene en beeste geboer het. Hulle woon nog steeds op die plaas,” het sy gesê.

Cindy en haar man, Stuart, het twee seuns en was 17 jaar lank getroud voordat hy in 2016 oorlede is. Craig (22) volg in sy pa se voetspore as natuurbewaarder en is tans besig met praktiese opleiding in Malawi. Die jongste seun, Luke (20), studeer landbou en hoop om eendag in die Waterberg te boer.

Cindy het ná skool ’n driejaarkursus in voedsel en kleding voltooi waarna sy ’n 18 maande internasionale diploma by die gesogte Prue Leith School of Food and Wine in Pretoria voltooi het. Sy het ’n jaar lank by ’n restaurant in Ierland, wat met ’n Michelin-ster toekenning spog, gewerk.

Daarna het sy by verskeie luukse lodges in Suid-Afrika as uitvoerende sjef gewerk.

Die gesin het die afgelope 17 jaar in Hazyview gewoon waar sy ’n padstal saam met haar skoonma behartig het, asook die Tree Top-restaurant op ’n plaas. Daar kon sy ’n kreatiewe spyskaart saamstel met vars seisoenale bestanddele.

Dit is hierdie jarelange ondervinding wat sy nou inspan by Lilies & Limes waar sy soveel moontlik vars bestanddele uit haar eie groentetuin gebruik in haar disse wat sy pragtig garneer met eetbare blomme uit haar tuin.

Daar is rye en rye tuisgemaakte konfyte, marmelades, maroela- en koejaweljellie, asook jenewer- en whiskey-marmelade te koop in die padstal. Die verskeidenheid gebottelde en gepekelde produkte soos kerrie-uie, gepekelde kool of beet, mosterdsuurtjies, groente (piccalilli) en basiliepesto laat die monde water.

Kliënte geniet haar gemmerbier en verfrissende suurlemoen-, lemoen- en grenadella-stroop wat saam met sodawater op ’n warm dag bedien word.

Cindy vertel dat die tuisgemaakte beskuit en koekies reg deur die jaar van haar gewildste verkopers is.

“Aanvanklik het ek ook vars vrugte op die rakke gehad, maar dit het glad nie goed verkoop nie. Neute en droёvrugte is ook nie gewild nie, maar die snoepgoed en moerkoffie verkoop baie goed,” het sy gesê.

Die dekadente tuisgemaakte roomys in vanielje-, sjokolade-, Turkse lekker-, Amarula-koffie- of karamelgeure is heerlik en heelwat kliënte koop ekstra bakkies om huis toe te neem.

Daar is altyd ’n verskeidenheid varsgebakte koeke en terte om saam met heerlike moerkoffie of tee te geniet. Vir die winter maak sy warm sjokolade “bomme” — ’n sjokoladebal gevul met warm sjokoladepoeier en malvalekkers — wat kliënte dan self in ’n beker warm melk smelt.

Sy vertel dat gereelde kliënte gedurende die week oorwegend pensioentrekkers en vroue is wat graag daar inloer vir ligte etes of koek en tee.

“Die boere wat daagliks hier aandoen, is mal oor die varsgebakte hoender- of peperbiefpasteie saam met wegneemkoffie,” het sy gesê.

Heelwat toeriste wat die talle lodges en wildsplase in die omgewing besoek, asook naweek-boere, hou gereeld by die padstal stil vir eet- en drinkgoed.

“Die mense wat hier aandoen, is baie interessant en ek geniet dit om op die platteland te woon,” het sy vertel.

Cindy verduidelik dat sy so ver moontlik plaaslike entrepreneurs en verskaffers ondersteun, want soos haar oupa altyd gesê het: “Geld wat tuis bly, werk vir almal.”

Die plaashoenders en vleis, vetplante, kinderklere, gebreide mussies, strooikussings, juwele en snuisterye is alles van plaaslike verskaffers. Die makadamiabotter kom van Makhado (Louis Trichardt) af en die moerkoffie van Sabie. Dit is voorwaar ’n skatkis vol interessante geskenke, kreatiewe items en watertand-lekkernye.

Die Lilies & Limes-padstal en restaurant is elke dag oop vanaf 08:00 tot ongeveer 17:00. Die restaurant kan tot 50 mense hanteer vir enige soort geleentheid en bied op Sondae ’n smaaklike middagete aan. Bel gerus vir Cindy Thomas by tel. 072 341 6117 om te bespreek of vir meer inligting.

Related Articles

Back to top button