Local newsNews

Modimolle-kultuurskatte kry nuwe tuiste in Parys

Dit is vroegoggend langs die oewer van die Vaalrivier.

Op die stoep sit Oupa aan sy pyp en teug met ’n koppie boeretroos in die hand. In die kombuis hang die reuk van varsgebakte brood by die koolstoof, terwyl Ouma perskes inlê. Sussie speel met haar handgemaakte lappop en Boetie skiet kettie in die agterplaas. Dit is ’n prentjie wat baie bekend is aan Suid-Afrikaners.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) verstaan dat ’n tuiste die hartklop van ’n familie is daarom het dié organisasie onlangs ’n opwindende nuwe projek aangepak om ’n plaashuis-museum op Udolpho-rivierplaas buite Parys te vestig.

Meubels van die voormalige eerste minister JG Strijdom se huis in Modimolle (destyds Nylstroom) is ook vir dié projek geleen. Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgopong-munisipaliteit, het gesê sy is baie dankbaar dat dié geskiedkundige skatte nou bewaar word en behoue kan bly vir die nageslag.

Die FAK, Afrikaanse Erfenisstigting en verskeie belanghebbendes het op Saterdag 25 Junie in Parys saamgekom om die amptelike opening van “Ouma se huis” te vier. Meubels en kunsskatte van die JG Strijdom-huis in Modimolle is in terme van ’n bruikleen-ooreenkoms in die huis uitgestal.

“Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het meubels aan die FAK beskikbaar gestel danksy ’n bruikleen-ooreenkoms,” het sy verduidelik.

“Die JG Strijdom-huis in die dorp het vervalle geraak en ons wou graag die meubels beskerm, maar ook weer aan besoekers toon. Dié meubels en hul geskiedenis speel ’n belangrike rol en moet vir latere geslagte bewaar word.” Adv. Hans Strydom, die “Leeu van die Noorde” was Suid-Afrika se sesde eerste minister.

Die langtermyndoelwit bly steeds om die huis in Modimolle tot sy volle glorie te herstel en weer vir besoekers te open,” het van Staden gesê.

“Ouma se Huis” is ’n ou plaashuis wat deur die FAK, in samewerking met die Erfenisstigting en verskeie belanghebbendes, opgeknap en omskep is in ’n eg-Afrikaanse tuiste waar hedendaagse kinders weer die tradisies van ouds kan beleef en herleef.

Ds. Rudolph van der Merwe van die Gereformeerde Kerk het tydens die amptelike opening op Saterdag 25 Junie aan die gaste gesê: “Ons moet bakens oprig en weet van waar ons kom en waarheen ons op pad is.”

Die FAK het met die hulp van Kobie en Gys Ströh van die FAK se Vaal-kultuurnetwerk verskeie oudhede versamel om die huis outentiek te maak en dit reggekry om dié trotse erfenis lewendig te hou.

Kobie vertel dat die idee vir die projek gespruit het uit hul liefde vir oudhede en die persoonlike versameling wat hulle deur die jare opgebou het.

“Ek en my man het deur die jare verskeie erfstukke en versamelaarsitems bymekaar gemaak en op ons oudag gewonder wat daarvan gaan word wanneer ons nie meer hier is nie.”

Hulle het vir dr. Danie Langner van die FAK gekontak en gevra of hulle dié items by hulle kan bewaar sodat die komende geslagte dit ook nog kan sien en waardeer. Daar is die idee gebore om die items te gebruik om die ou plaashuis weer nuwe lewe te gee.

Ziegfried van Huysteen, finansiële bestuurder van die FAK, het op sy beurt verduidelik dat Udolpho al jare lank ’n tuiskomplek vir baie mense is en daarom is dit gepas dat Ouma se huis daar bekend gestel word.

“Ouma se huis” is meer as ’n museum,” het hy verduidelik.

“Dit is ’n plek wat ons almal goed ken; dit is die huise waarin ons grootgeword het en daarom wil ons dit behou vir die nageslag.

Related Articles

Back to top button