Local newsNews

Komaan, eet jou groente!

Tussen die rooigeploegde aarde is ’n “lappieskombers” in skakerings van groen.

Gerhard Viviers kry my op die tweespoorpaadjie en beduie dat ons eers huis toe moet gaan om Bernadette, sy vrou, en die kinders te kry. Dan is dit lande toe.

’n Mens kan sommer sien hoe die boerdery in hul are bruis as Gerhard met die intrapslag begin praat oor sy groente wat op die land is. Dit is ’n plaat kool, blaarslaai en Hubert-pampoene.
Gerhard is ’n boorling van Crecy en het in Modimolle skool gegaan. Hy was ná skool die operasionele bestuurder van ’n bakkery vir ’n groot kettingwinkel in Gauteng, maar het altyd ’n droom gehad om te boer.

Gerhard en Bernadette Viviers is groenteboere van die Mookgophong-omgewing. Hulle kraakvars groente is direk van die plaas na die verbruiker teen billike pryse beskikbaar.

Hy het in 2008 terug plaas toe gekom en die geleentheid gekry om sy droom te verwesenlik. Hy en Bernadette is in 2012 getroud.

“Ek het eers begin smous met groenteprodukte van ander boere en aanvanklik op klein skaal begin om my eie groente te verbou. Ek het eers al die groente aan ander winkels gelewer en in 2018 het ons besluit om ons groente self te bemark en die London-padstal/groentewinkel geopen. Die Here het ons só geseën dat ons kort daarna nog ’n winkel in ’n naburige dorp kon open,” het hy geesdriftig vertel.

Hulle het in 2016 die geleentheid gekry om hul eie grond te koop en plant nou 35 ha groente onder drupbesproeiing uit boorgate.

“Die somergewasse is nou af, maar gewoonlik plant ons ’n verskeidenheid groente soos blomkool, brokkoli, beet, groenbone, tamaties, suikermielies, eiervrug, spinasie, rape, seldery, grasuie, groenrissies en lemoenpampoentjies. Ons koop groente en vrugte by die boere in ons omgewing en dit wat ons nie self het of plaaslik kan kry nie, koop ons op die varsproduktemark. Ons probeer om die gemeenskap te ondersteun om tuisgemaakte beskuit, koekies, koeke en terte ook in die padstal te verkoop,” het Bernadette aan Die Pos gesê.

Die winkel is baie suksesvol en deesdae produseer hulle die meeste van die groente self en kan hulle dit aan teen ’n billike prys aan die publiek voorsien.

Bernadette is in Polokwane gebore en is ook ’n aptekersassistent. Sy help met die navorsing om die gehalte en opbrengs van hulle produkte te verbeter wanneer die tweeling van vier maande, Estelle en Willem, haar ’n blaaskansie gee.

Related Articles

Back to top button