Local newsNews

Vermindering in Eskom-kragtoevoer kniehalter boerdery

Eskom — wat 16 dae agtereenvolgende beurtkrag kon vermy — het veral boere warm onder die kraag omdat hulle ’n verminderde kragvoorsieningsprogram in werking gestel het.

Volgens Eskom word die kragtoevoer nie afgeskakel nie, maar verbruikers ontvang minder krag.

Die verminderde kragvoorsiening word reeds sedert Vrydag 17 Junie toegepas waartydens sekere dele se kragtoevoer daagliks tussen 05:00 en 07:00, asook tussen 17:00 en 19:00, verminder word. Volgens verbruikers in die Waterberg-omgewing word daar nie stiptelik by die tye gehou nie.

Die landboubedryf word veral hierdeur gekniehalter.

Die Springbokvlakte-boerevereniging het in ’n skrywe aan Die Pos gesê dié praktyk raak bykans alle landbouaktiwiteite, produksie en plaaspersoneel (sien volledige brief op bl. 9).

“Verminderde kragvoorsiening is ’n groter onding as beurtkrag. Tydens beplande beurtkrag is daar ten minste ’n skedule. Boere kan nie hul dag vooruit beplan nie,” het Henk van de Graaf, TLU SA se noordstreekvoorsitter, by navraag aan Die Pos gesê.

Volgens Eskom word slegs sekere plekke deur hierdie instelling geraak.

Die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo gaan tans gebuk onder kragvermindering. Talle grondeienaars in Die Pos se lesersgebied het hul kommer uitgespreek oor verliese wat hulle ly weens dié reëling.

“Sover ons kon vasstel spruit hierdie instelling uit ’n gebrek aan instandhouding op plaaslike vlak. Mense wat nie hul rekeninge kan betaal nie, se krag word outomaties aangepas na ’n laer kragvoorsiening,” het Van de Graaf gesê.

“Ons ontvang gereeld klagtes van boere, veral dié wat besproei of vee- en hoenderboere is. Enige boer wat teen ’n verlies produseer, staar bankrotskap in die gesig — om nie eens te praat van die stygende brandstofprys en die hoë koste van kragopwekkers nie. Werkloosheid sal beslis toeneem, want ’n boerdery is ’n besigheid en dit moet wins maak.”

Hy het gesê TLU SA het reeds gesprekke met die Eskom-direksie gehad, maar die probleem is nog nie opgelos nie.

“Ons raad aan boere is om so gou moontlik planne te maak om van die kragnetwerk af te kom deur alternatiewe metodes soos sonkrag te gebruik. Dit sal ’n groot uitdaging wees, maar die tegnologie en finansiering is beskikbaar,” het hy gesê.

“Hoenderboerderye sal veral by alternatiewe energie baat, het hy gesê.

  • In Die Pos se lesersgebied word die volgende omgewings deur die verminderde kragvoorsiening in die Tuinplaas-omgewing geraak: Tuinplaas, Marapjane, Greenside, Marapyane, Seabe, Terateng, Ramantsho, Katjibane, Goed voor Alles, Ga-Maria, Gegund, Deercroft, Diepsloot, Parys, Bittersoet, Lefiswane, Malebitsa, Kalkpan, Roodevlakte, Wykham Lodge, Samekoms, Mbugani, Nutfield en Byzonder.

In die Vaalwater-omgewing is dit: Zandrivier, Wolwefontein, Hartebeestpoort, Leeudrif, Aanhou, Vrede, Driehoek, Ebenaezer, Boekenhout, Whittal, Kwarriehoek, Witfontein, Gedenk, Rietbokhoek, Blaaubank, Grootwater, Olievenhoutfontein, Ventersfontein, Bultfontein en Baberkuil.

Verder word die volgende plekke in die Bela-Bela/ Lehau-omgewing geraak: Roodekuil, Turffontein, Wellington, Towoomba, Benwell, Athlone, Towyn, Sidney, Exeter, Gretna, Brandwag, Biesieskuil, Norman, Afset, De Kuil, Ludlow, Manor, Jura, Settlers, Illawara, Soetdoringlaagte, Bala en Vlaklaagte.

In Thabazimbi word die inwoners van Thabazimbi-buiteliggend, Spitskop, Kwaggasvlakte, Bergsig, Groothoek, Kareehoek, Marakeli, Buffelshoek, Boschfontein, Sifikile, Mononono, De Deur, Chromite, Koedoedorings, Rooidam en Maroelafontein geraak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button