Local newsNews

Inwoners herstel sélf dorp se slaggate

Die gemeenskapsforum Adopt-a-Pothole het op Saterdag 18 Junie ’n hele aantal slaggate in Boshoff- en Vosstraat in Modimolle herstel.

Volgens Sarie van den Berg, koördineerder van Adopt-a-Pothole, het hulle altesame 56 slaggate in Boshoffstraat herstel en vyf slaggate op die hoek van Vos- en Kerkstraat danksy skenkings van inwoners en sakelui in Modimolle.

Jaco de Villiers van De Villiers Hardeware in Modimolle het reeds in Mei 50 sakke teermengsel geskenk waarvan die helfte in Mei gebruik is en die res op 18 Junie.

Alzu Voere se hoofkantoor het 28 sakke teermengsel geskenk wat gebruik is om 24 groot slaggate by hul ingang aan die onderpunt van Vosstraat te herstel.

Van den Berg het aan Die Pos gesê ’n weldoener het vir hul ’n bakkie geleen om die dag te gebruik terwyl ’n ander inwoner een van die drie werkers se dagloon geborg het.

Een van die grootste uitdagings is om die teermengsel sag genoeg te kry sodat dit hanteerbaar is om aan te wend. Die sakke kan tydens die somermaande net vir ’n halfuur in die son lê, maar in die wintermaande is dit nie so maklik nie. Dit het Johan Weideman, jarelange inwoner, aangespoor om ’n oplossing te vind. Hy het ’n eenvoudige staal bakwerk gemaak waarin een sak teermengsel presies pas. Die bakwerk word dan oor ’n kruiwa geplaas en dit is dan maklik om onder die kruiwa vuur te maak totdat die teermengsel smeebaar is.

Van den Berg het verduidelik dat hulle in September vanjaar weer ’n fondsinsamelingsprojek sal hou sodat die span kan voortgaan om slaggate in Van Niekerk-, Buffalo- en verder in Boshoffstraat te herstel.

Intussen is verteenwoordigers van Adopt-a-Pothole en Aksie Opknap in gesprek met die plaaslike owerheid en Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, vir verdere hulp met die herstel van paaie in die dorpsgebied.

Sarie en Adolf van den Berg wil namens Adopt-a-Pothole die inwoners, sakelui, munisipaliteit en almal wat op een of ander manier betrokke is, bedank vir hul ondersteuning en hulp.

Almal word genooi na die gemeenskapsvergadering hieroor wat om 18:00 op Donderdag 23 Junie by die Koro Creek-gholflandgoed in Modimolle gehou word. Bel gerus vir Sarie by tel. 082 882 2131 met enige navrae.

Related Articles

Back to top button