Local newsNews

Heerlike vars brood uit die hart na die mond

Om elke dag varsgebakte brood te geniet, en dan boonop teen ’n billike prys, is ’n voorreg.

Die Bron AGS-gemeente in Mookgophong het ’n projek aangepak om varsgebakte brood teen bekostigbare pryse aan die gemeenskap beskikbaar te stel.

Suzette Jooste, ’n gemeentelid en self ’n gesoute bakker, het van die Kruispad-broodjieprojek te hore gekom en besluit om deel te word daarvan. Die naam is afkomstig uit die dertiende en veertiende eeu toe elke huis ’n unieke kruisie of merkie op brode gemaak het om dit uit te ken wanneer dit in die “stadsoonde” gebak is.

Johan Stapelberg, ’n sakeman en bakker van Pretoria, het tydens die Covid-19-pandemie begin met die projek om bekostigbare brode in houtaangevuurde oonde, soos die gebruik in vorige eeue in Europa was, te bak. Hy het so ’n oond by die kerk in Mookgophong kom bou en opleiding gegee hoe om die verskillende brode te bak waaronder ciabatta en suurdeegbrode.

Johan Stapelberg, sakeman en weldoener van Pretoria, en Suzette Jooste van Mookgophong, wat die Kruispad-broodjieprojek by die AGS Bron-gemeente in Mookgophong begin het.

Volgens Jooste sal die bakkery van Maandag 1 Augustus in volle werking wees en inwoners sal dan daagliks heerlike vars brode en pizzas kan koop.

“Die kerke en nie-regeringsorganisasies wat reeds sopkombuise het, sal regtig baat vind by die projek en sodoende aan minderbevoorregte mense kos kan verskaf teen ’n geringe bedrag. Dit bring mense ook bymekaar,” het Stapelberg gesê.

Die meel wat gebruik word, is klipgemaal wat ook gesond is.

“Gemeentelede van ander kerke koop koepons wat aan behoeftiges gegee kan word waarmee hulle dan varsgebakte brood kan koop,” het hy vertel.

“Sommige inwoners in Pretoria het mense aangespoor om die vullis op te ruim en in ruil daarvoor kry hulle koepons. So raak mense ook betrokke by hul gemeenskappe,” het hy gesê.

“Ons is baie opgewonde en sien uit daarna om elke dag vars brood te verskaf,” het Jooste gesê. Jooste het ’n dogter wat gehoorgestremd is en om vir haar werk en ’n geleentheid te skep, was ’n groot motivering om die projek van stapel te stuur.

Related Articles

Back to top button