Local newsNews

Gru-ongeluk eis twee paramedici op N1

Nooddienstepersoneel is in die middernagtelike ure van Dinsdag 21 Junie uitgeroep na ’n ongelukstoneel op die N1-snelweg waar ’n ER24-ambulans agter in ’n stilstaande vragmotor vasgery het.

Die gru-ongeluk het omstreeks 00:30 naby die Codrington-afrit tussen Bela-Bela en Pienaarsrivier op die N1-noord gebeur.

Volgens bronne was die ambulans op reis vanaf Pretoria na Polokwane toe die bestuurder agter-in die sleepwa van ’n stilstaande Volvo-vragmotor vasgery het. Die bestuurder en die passasier, ook ’n paramedikus van Polokwane, is op slag dood.

Reddingswerkers op die toneel was geskok om die vergruisde liggame van die paramedici te sien.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van die ER24-groep, was die ambulans op pad terug na hul betrokke tak nadat hulle ’n pasiënt na ’n hospitaal in Pretoria oorgeplaas het.

Meiring het bygevoeg dat hulle baie nou met die owerhede sal saamwerk om die oorsaak van die ongeluk te ondersoek.

Mavhungu Lerule-Ramakhanya, lid van die uitvoerende raad van Limpopo se departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid, het dieselfde dag ’n mediaverklaring uitgereik waarin sy haar meegevoel met die twee oorledenes se families betuig.

“Dit is ontstellend om sulke hartseer nuus van twee nooddienstepersoneel wat aan diens gesterf het, te hoor. Ons maak juis op hierdie mense staat om lewens te red op die land se paaie,” het sy gesê.

Sy het gemaan dat bestuurders ekstra versigtig moet wees en binne die voorgeskrewe spoedgrense moet bestuur.

Lede van die publiek het heelwat vrae op sosiale media gevra oor die rede waarom die vragmotor langs die N1-snelweg stilge-
staan het en waarom dit nie sigbaar was nie. Heelwat mense het kommentaar gelewer dat hulle gereeld vragmotors op die snelweë teëkom wat nie voldoende ligte of weerkaatsers agterop sleepwaens het nie.

Dié deel om die Codrington-afrit is ook bekend vir digte mis en rook wat vanaf die omliggende informele nedersettings kom wat soms die sigbaarheid op die snelweg belemmer.

Dr. Phophi Ramathuba, lid van die uitvoerende komitee van die Limpopo-departement van gesondheid, het gesê: “Die verlies aan twee paramedici, ongeag of hul in die publieke of privaat gesondheidsektor was, is ’n groot verlies vir ons almal. Mag ons troos vind in die nalatenskap van hul toegewyde diens terwyl ons voortgaan om in diens van ons gemeenskap te staan.”

  • Die name van die twee oorledenes is nie teen druktyd bekend gemaak nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button