Local newsNews

Planne vir botaniese tuin in Bela-Bela skiet nuwe wortels

Die droom om ’n botaniese tuin in Bela-Bela tot stand te bring, het die afgelope week weer ’n hupstoot gekry.

Die idee het reeds in 2020 by ’n groep inwoners posgevat om die stuk grond wat aan die Renaissance-aftreeoord en die Alma-pad grens, in ’n bewaringsgebied te omskep. Dié grond, beter bekend as die oorblywende gedeelte van erf 25 Hetbad, behoort aan die Bela-Bela-munisipaliteit.

’n Groep inwoners het die projek van stapel gestuur nadat onwettige grondbesetting in die omgewing plaasgevind het en hul veiligheid bedreig is. Die gebied het pragtige natuurskoon, maar daar het kommer geheers dat dit vernietig sou word en dat ’n plakkerskamp teen die dorp die waarde van nabygeleë eiendom negatief sal raak.

Die botaniese loodskomitee het destyds meer as 3 500 handtekeninge gekry van mense wat die ontwikkeling van die tuin ondersteun.

Samesprekings en voorleggings het daarna met die munisipaliteit plaasgevind en amptenare het aangedui dat hulle die projek in beginsel goedkeur.

Die Covid-19-pandemie het egter onderhandelinge gestuit. Die loodskomitee het eers nou weer op Woensdag 8 Junie vergader.

Johan Mills wat in 2020 een van die sleutelfigure in die projek was, het aangedui dat hy nie meer as projekleier kan dien nie aangesien hy nou op die stadsraad dien en dit botsende belange veroorsaak. Hy sal steeds die projek steun en die saak waar moontlik in raadsvergaderings aanroer.

Arnaud le Roux, wild- en omgewingskenner, is in Mills se plek as nuwe voorsitter van die loodskomitee verkies.

“Die botaniese tuinkonsep sal nie in die snippermandjie beland nie. Ons wil klein begin en skouer aan die wiel sit om ons groot droom te laat realiseer. Indien Bela-Bela as die poort na Limpopo vir toeriste bekend wil staan, sal ons die natuurerfenis moet bewaar. Die beoogde tuin hou groot voordele vir die Waterberg-biosfeer in,” het Le Roux gesê.

Sake soos die uitleg van die tuin, befondsing, omheining, arbeid en die pad vorentoe is op die vergadering bespreek.

Die publiek, sakeondernemings, opvoedkundige instansies en die Suid-Afrikaanse Botaniese Tuin Instituut (Sanbi) sal almal betrek word by die beplanning. Verdere samesprekings met al die rolspelers sal eersdaags plaasvind.

Indien inwoners meer inligting oor die beoogde projek verlang en betrokke wil raak, kan hulle vir Le Roux bel by tel. 082 325 6578.

Related Articles

Back to top button