Local newsNews

Modimolle-digter vereer vir haar groot bydrae tot Afrikaans

Anzé Bezuidenhout, bekende digter en stigter van INK-skryf in Afrikaans, is iemand op wie die dorp sommer baie trots kan wees.

Sy het onlangs ’n eretoekenning van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) ontvang.

Driekie Grobler, GHA-ondervoorsitter, het tydens die oorhandiging gesê:

“Dit is vir die GHA ’n groot voorreg om erkenning te gee aan diegene wat streef daarna om ’n positiewe bydrae te lewer tot die bevordering van Afrikaans. Anzé het haarself oor en oor bewys met haar bydrae tot die uitbouing van ons mooi taal in haar persoonlike digkuns, asook in haar strewe om ander Afrikaanse-taalorganisasies te betrek sodat digters en skrywers meer geleenthede kry om kreatief te groei,” het sy gesê.

Bezuidenhout woon sedert 1998 saam met haar gesin op ’n plaas buite Modimolle en bedryf tussendeur ook ’n winkel, Ietsie van Als, op die R33-deurpad naby Castle De Wildt en die Eersbewoond-afdraaipad.

Sy is passievol oor kreatiewe skryfwerk in Afrikaans en het al talle digbundels uitgegee. Sy help ook voornemende digters en skrywers om hul werk self uit te gee.

Die GHA beywer hul sedert 1994 om Afrikaans te bevorder en uit te brei. Volgens Leon Strydom, eertydse uitvoerende sekretaris van die GHA, het die vlam op die GHA-embleem ’n besondere betekenis.

Strydom het verduidelik dat destydse vaandeldraers tydens skermutselings aan die voorpunt van die geveg die vlag hoog moes dra sodat die strydrosse kon aanhou veg. Die GHA is die vaandeldraer van Afrikaans wat aan die voorpunt veg vir Afrikaans.

“Die stryd vir ons taal is ook die stryd vir ons vryheid, selfrespek en selfstandigheid,” het hy gesê.

Belangstellendes wat by die GHA wil aansluit of wil deelneem aan die jaarlikse verhoog- en radiodramakompetisie, kan gerus hul webtuiste by www.afrikaans.org.za besoek.

INK-skryf in Afrikaans se jaarlikse kortverhale- en digkunskompetisie sluit op Donderdag 30 Junie.

Kranige aspirantdigters en kortverhaalskrywers van alle ouderdomme kan elektronies inskryf deur hul werk te e-pos na: skryfafrikaans@ink.org.za of anzebez@gmail.com of bel vir Anzé Bezuidenhout by tel. 082 648 0284 vir meer inligting.

Besoek gerus die Facebookblad of webtuiste by www.ink.org.za om van die lede se gedigte en kortverhale te lees.

Related Articles

Back to top button